Verkryging van staatsambulanse in Delmas is glo ’n onbegonne taak
“Ek vra gewoonlik vir ’n beskikbare persoon, naaste aan die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas, om vir ons ’n ambulans te gaan haal of te ontbied - dit is baie keer ’n geval van lewe of dood.”
Vir pasiënte wat nie aan ’n privaat mediese fonds behoort nie, blyk die verkryging van ’n ambulans binne die Victor Khanye Plaaslike Munisipale (VKLM) gebied byna onmoontlik te wees.
Volgens eerstehulpspanlede in die Delmas-omgewing is tonele soos dié van ’n moontlike hartaanval of beroerte, of ’n motorongeluk met ernstige beserings een van hul grootste nagmerries.
“Die moontlikheid om ’n staatsambulans per selfoon op Delmas in die hande te kry is absoluut nul,” het Jolene Rheeder, leier van AfriForum Delmas Valke Buurtwag eerstehulpspan, gesê.
“By ons eerstehulplede is dit standaard prosedure dat ten minste een persoon op bystand is om, indien nodig, ’n ambulans te ontbied, maar geen van die nommers verskaf is ooit beskikbaar nie.”
Volgens Carel Botha, die voorsitter van AfriForum Delmas Valke Buurtwag, kan hy self getuig van hierdie probleem.
“Jy kan bel vir ’n staatsambulans, dag of nag, maar geen van die nommers werk nie; sommige lui net, ander gaan net dood en dan is daar vele wat vir jou sê ‘voicemail full’. Dit terwyl eerstehulpspanlede op ’n mediese toneel die dringendheid van ’n ambulans beklemtoon.
Jou hande voel afgekap en al wat jy kan doen is om na die hospitaal te ry en deur die stappe daar te gaan om ’n ambulans te ontbied.”
“Met privaat ambulansdienste het ons geen probleme nie, jou oproep word binne etlike sekondes beantwoord, ’n sms met verwysingsnommer en bevestiging van die adres word gestuur en die kontakpersoon word deurentyd op hoogte gehou.”
Volgens Rheeder en Botha gaan kosbare tyd egter so verlore; tyd waarin ’n mens se lewe moontlik gespaar kon bly.
Streeknuus is ook in besit van bewyse van verskeie boodskappe waarin daar fisies na die hospitaal gery moes word om die dienste van ’n staatsambulans te bekom. Die Eloff Buurtwag se eerstehulplede ervaar dieselfde.
“Ons het geen toegang tot staatsambulanse nie; geen van die nommers werk nie,” het Heila Coetzee van die Eloff Buurtwag, laat hoor.

Volgens Coetzee is daar ’n goeie samewerkingsooreenkoms tussen naburige buurtwagte.
“Ek vra gewoonlik vir ’n beskikbare persoon, naaste aan die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas, om vir ons ’n ambulans te gaan haal of te ontbied – dit is baie keer ’n geval van lewe of dood.”
Die feit dat ambulansedienste nie gekontak kan word nie, is ’n groot probleem in ons omgewing,” het Coetzee bygevoeg.
Die DA het ook hul kommer oor gebrekkige ambulandienste in Mpumalanga uitgespreek. Dit nadat ’n man van eMbalenhle glo op 28 September in ’n stormwaterdrein beland het.
Volgens ’n mediaverklaring deur Bosman Grobler, die DA se woordvoerder vir gesondheid in Mpumalanga, was die DA rondom dié geval in kennis gestel en het dadelik met die polisie in aanraking gekom asook ’n ambulans ontbied.
LEES OOK: Besoekers geniet kuier in die tuin op Rayton
“Vier ure later het die ambulans op die toneel aangekom. Die man is op die toneel dood verklaar,” lui die mediaverklaring.
’n Soortgelyke toneel het onlangs by ’n bekende motorhawe en vragmotorstop net buite Delmas afgespeel.
Volgens Rheeder was die eerstehulpspan vir mediese bystand gekontak.
“Met ons lede se aankoms op die toneel was die pasiënt, ’n 51-jarige vragmotorbestuurder afkomstig vanaf Mosambiek, duidelik in groot nood.
“Daar was onmiddellik met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin en opdrag was gegee om ’n ambulans te skakel – weer eens sonder sukses.
“Ook in hierdie geval moes een van ons lede na die Bernice Samuel Hospitaal ry om daar die ambulanspersoneel van die lewensbedreigende noodgeval in kennis te stel,” het Rheeder vertel.
LEES OOK: Domestic workers and employers in Secunda can expect a visit
“Teen die tyd dat die ambulans uiteindelik op die toneel aangekom het, was die pasiënt op die toneel dood verklaar.”
Streeknuus het ’n skrywe aan die LUR van gesondheid in Mpumalanga, Sasekani Manzini, gerig waarin navraag oor die probleme met die verkryging van ambulanse in VKLM gedoen is.
Teen druktyd was daar egter nog geen terugvoer vanaf haar kantoor nie.
Diane Bath, raadslid van die DA in VKLM, het op navraag gereageer en kontak nommers vir ambulansdienste beskikbaar gestel.
Bath het die volgende nommers vir staatambulansdiente verskaf:
- Middelburg kontrolesentrum: 112
- Provinsiale kontrolesentrum: 082 907 3256.



