Delmas Herleef bied ‘n Kersfees boodskap
Alhoewel Delmas Herleef niks aan die waterkrisis kan doen nie, is ons bewus van die nood van mense en sal ons saam soek en strewe om ’n oplossing te vind.
Met Kersfees om die draai, het die Delmas Herleef se komitee vir mekaar dankie gesê vir ’n jaar van harde werk, ’n jaar waarin daar nog ’n groot en suksesvolle makietie gereël en vele mylpale bereik is.
Komiteelede het op 19 November by die Delmas Gholfklub gesellig saam gekuier. Daar was ’n blik gegooi op die tyd sedert Delmas aan die hande van Delmas Herleef in 2023 as Die Dorp van die Jaar aangewys was.
Die voorsitter, dr Martin Van Rensburg, het aan Streeknuus se lersers ’n kersboodskap gestuur:
“Kersfees is ’n spesiale tyd van die jaar. ’n Tyd van gee, maar ook ’n tyd van diepe nadenke oor die genade van die Here. Naas Stille Nag is Koos du Plessis se Somerkersfees van die mooiste en gewildste Kersliedere. Koos sing oor ’n somer kersfees onder die Suiderkruis in hierdie land. Met hierdie lied val die fokus op die uniekheid van ons land en die viering van Christus se menswording hier waar ons is.
LEES OOK: Team closes some eMbalenhle tuckshops for non-compliance
“Waar ander Kersliedere handel oor die herders en die wyses en die stal en dit wat in Bethlehem gebeur het, bring Somerkersfees ons terug na ons land en dit wat eie is aan Suid-Afrika – ’n warm somer en al die uitdagings wat daarmee saamgaan.
“Daar is egter meer dinge wat eie is aan ons Kersfees in Suid-Afrika in 2024. Delmas Herleef is al die afgelope paar jaar besig om saam met ander rolspelers van Delmas ’n beter plek te maak. Ons het slaggate herstel en rommel opgetel. Ons het stoptekens opgerig en stopstrate geverf.
“Somerkersfees kry hierdie jaar nuwe betekenis met die waternood in ons dorp en ons land. Hoewel Delmas Herleef niks aan die waterkrisis kan doen nie, is ons bewus van die nood van mense en sal ons saam soek en strewe om ’n oplossing te vind.
“Somerkersfees is nie slegs ’n lied nie, dit is ’n gebed waarin gevra word na die beste Kersgeskenk. Gebed is en bly die enigste wyse waarop ons kan oorleef en herleef.
“Dit is alleen in afhanklikheid van God en deur Sy voorsiening dat ons van Delmas ’n beter plek kan maak. Ons krag is in die Here en in Sy mag. Dit is alleen deur die ingrype van ons Hemelse Vader, dat dinge kan en sal verander.
LEES OOK: Toekenning aan Govan Mbeki Munisipaliteit vir waterbesparing is ‘n klug, sê AfriForum
“Hierdie verandering begin by ons elkeen. Dit is alleen wanneer ons die grootste Kersgeskenk onder die Suiderkruis ontvang dat dinge verander. Dit is belangrik dat ons hierdie grootste Kersgeskenk met ander sal deel.
“Mag hierdie Somerkersfees vir Delmas ’n besondere Kersfees wees. Jesus het mens geword om ons te verander en van die wêreld ‘n beter plek te maak. Mag ons in gehoorsaamheid aan Christus voortdurend daarna sterwe om van ons omgewing beter te maak.
“Wat die toekoms inhou weet ons nie. Wat ons wel weet is dat die toekoms in die hande van die Here is. Ons sien daarna uit om in 2025, saam met die gemeenskap van Delmas, hande te vat om van ons dorp ’n beter plek te maak,” het Delmas Herleef staatmaker, Madel Fourie bygevoeg.
“’n Geseënde Somerkersfees vir u toegebid.”