Cullinan rugby gaan van krag tot krag
Die klub het sewe wedstryde in die eerste ronde gespeel, waarvan hulle ses gewen en een gelykop gespeel het.
Met die eerste ronde van die Blue Bulle Rugbyunie 2025 liga agter die rug, staan Cullinan Rugbyklub se spelers in sterk skoene.
Die klub het sewe wedstryde in die eerste ronde gespeel waarvan hulle ses gewen en een gelykop gespeel het. Cullinan het op 17 Mei teen die span van die Harlequins op Cullies se tuisveld te staan gekom en die wedstryd met 25-16 gewen.
Die laaste wedstryd in die eerste ronde van die liga het op 24 Mei plaasgevind, waar Cullinan teen die span van Noordelikes Drie gespeel het. Ook hierdie wedstryd het hulle oortuigend gewen met 38-2.
LEES OOK: Raytie-meisies skaats sierlik by nasionale kampioenskap
Tydens die wedstryd teen die Noordelikes Drie was Cullies puntemakers Kopano Monana, Tersius Purvis en Gian Mans wat elkeen ‘n drie gedruk het.
Vincent Marucchi het daarin geslaag om drie drieë agter die doellyn te druk terwyl Markus van Loggerenberg vier doelskoppe oor die pale gesit het.
“Ons speel ons eerste wedstryd in die tweede ronde van die liga op 31 Mei op ons tuisveld teen die Brits Rugbyklub,” het André van der Merwe, afrigter van Cullinan Rugbyklub, gesê.








