Oud Secunda-inwoner praat oor haar hospitaalonderonsie
Belangstellendes kan Tanya volg op Facebook of op TikTok by #Tanz92.
Hulle speel met ’n mens se lewe. So beskryf Tanya Myburgh (33) haar nare ondervinding in die Steve Biko Hospitaal in Pretoria toe sy aan die begin van April ’n hartaanval gehad het.
Tanya, ’n sjef van beroep, is ’n oud-inwoner van Secunda wat op sosiale media bekend is vir haar opehartige praatjies oor geestelike welstand, haar lewe en haar liefde.
Myburgh en haar vrou, Megan, ’n tatoeëerkunstenaar, reis nou oor die land vir bewusmaking van wat met Tanya gebeur het.
Dié paartjie van Pretoria deel hul storie met ander, terwyl Megan ook tatoeërwerk doen om geld vir Tanya se privaat behandeling in te samel.
Hulle het onlangs Secunda besoek, waar hulle by Scissorhands Haarsalon met kliënte gesels het. Dorpe op die paartjie se radar sluit in Standerton, Rayton en Cullinan.
“As ons genooi word, lê ons graag besoek af,” het Megan beaam.
Tanya was net 22 jaar oud toe haar hart 10 jaar gelede by haar werksplek in Trichardt skielik gaan staan het. Sy het by die dood omgedraai en was vir weke in die hospitaal.
Dit was juis met dié geskiedenis dat die rooi ligte vir Tanya daardie eerste week in April geflikker het. Die gevaartekens was daar, en na ’n paar dae se siekte het sy vir Megan gevra om haar dokter toe te neem.
“My dokter het my toestand as ernstig beskryf en, omdat ek nie ’n mediese fonds het nie, my met ’n brief en EKG-uitslae na Steve Biko Hospitaal verwys vir dringende opname.”
Tanya vertel dat sy van die intrapslag af – en ander pasiënte – sleg behandel is.
“Ek is eers deur die dokter uitgelag, en toe moes ons wag… en wag. Ek het later vir Megan gevra om my huis toe te neem, want ek wou nie in die hospitaal doodgaan nie. Ons het toe maar gery sonder om uit te teken.”
Tanya gee wel toe dat die personeel die dag baie besig was. Haar toestand het deur die nag vererger, en sy is die volgende oggend per ambulans na die hospitaal gejaag. Dieselfde dokter het haar weer gesien.
Weer is daar gewag totdat Tanya inmekaar gesak het.
“Die sweet het my afgeloop, en ek het geweet ek gaan nou dood. Eers toe het ’n suster met gevoude arms gesê sy kon sien ek is nie wel nie.”
Die dokter wat haar eers uitgelag het, het die dag wel Tanya se lewe gered.
“Ek is na die waaksaal geneem, waar die dokter my gestabiliseer het.”
LEES OOK: Three appear in Volksrust court for possession of R558 000 worth of dagga
’n Paar dae later is sy na ’n gewone saal oorgeplaas, waar sy beddegoed in die hand gestop is en aangesê is om haar eie bed te gaan maak.
Een van die dinge wat vir Tanya die naaste onder die kraag gehad het, was hoe sy oor haar seksualiteit uitgejou is.
“Daar is kort-kort vir my gesê om my ‘man’ te roep. Dit was baie sleg. Ek was nie daar om hul pêl te wees nie, maar omdat ek siek was en hulp nodig gehad het.”
Volgens Tanya is nie sy of Megan deur dokters ingelig oor wat aangaan nie. Verskeie toetse is gedoen sonder dat daar na die briewe van Tanya se dokter gekyk is.
“Ek is met twee boksies Panado ontslaan,” het sy vertel.
Die Myburghs het hierna besluit om eerder die privaat-roete te gaan, maar die verskeie toetse wat reeds gedoen is, kos hulle ’n fortuin.
“Ons weet darem nou al dat my hart eintlik in ’n goeie toestand is, maar iets in my liggaam veroorsaak dat die hartklep toe gaan. Die toetse om te bepaal wat die probleem veroorsaak, gaan steeds voort,” het Tanya verduidelik.
Sy moes weens haar swak gesondheid haar nuwe spysenieringsonderneming vir eers op die rak plaas. Sedert Tanya op TikTok oor haar ontberinge vertel het, het boodskappe van bemoediging en mense met soortgelyke stories ingestroom.
Belangstellendes kan Tanya volg op Facebook of op TikTok by #Tanz92. Om afsprake met die Myburghs te reël, kan Megan geskakel word by 076 851 7791.



