Local newsNews

Secunda-boorling oorwin dwelms en begin leefstyl-sentrum in Vanderbijlpark

By sentrum leer mans hoe om na dwelmverslawing en rehabilitasie weer beheer van hul lewe te neem.

Edwin Haasbroek (43) het die laagste punt van sy lewe bereik toe hy aan dwelms verslaaf was en op straat gebly het. Hy het op Secunda grootgeword en aan Hoërskool Secunda gematrikuleer.

Dit het as tiener begin
Haasbroek het op 17 reeds met dwelms begin eksperimenteer, met LSD en ecstasy as eerste keuse.

“Ek het gedink ek kan ’n nuwe Edwin Haasbroek skep,” het hy vertel.

Aanvanklik het hy slegs nou en dan gebruik, gewoonlik saam met vriende tydens geleenthede. Hy het daarin geslaag om ’n werk by ’n kontrakteur by Sasol te kry ten spyte van sy dwelmmisbruik.

Hy is later permanent by Sasol aangestel en het bevordering gekry. Hy het verder studeer en kursusse gedoen in die chemiese produksie-rigting en finansieel het dit goed gegaan.

Haasbroek het ’n huis, voertuie en motorfietse gekoop, maar hy het steeds ’n groot leemte in sy lewe gevoel.

“Ek het my identiteit in my aardse besittings gevind,” het hy vertel.

Die agteruitgang
Sy dwelmgewoontes het egter die oorhand gekry en hy het later sterker dwelms soos kokaïen en crystal meth saam met alkohol begin gebruik.

Sasol het hom afgedank nadat hulle hom vier keer vir rehabilitasie gestuur het.

Hy het sy huis, motors en al sy besittings verloor en in die strate van Johannesburg en vir ’n kort rukkie ook in Durban opgeëindig.

“Op straat het ek dinge gesien en gedoen wat geen mens behoort te sien of doen nie.”

Hy was onder meer by huisrowe betrokke en het gesien hoe dwelmhandelaars vroue misbruik.

“’n Mens is nie veronderstel om so onsensitief te raak dat sulke goed jou nie meer pla nie, maar daardie lewe het vir my normaal geword.”


Edwin Haasbroek is verlede jaar met dr Surita Haasbroek getroud. Foto: Verskaf

’n Oproep om hulp
Haasbroek het een dag toe hy in 2015 op straat aan die Oos-Rand gebly het, planne beraam om sy volgende dwelms in die hande te kry.

Teen dié tyd het sy ouers hom in dieselfde jaar reeds as vermis aangemeld. Hy het net geweet hy moet iets doen om sy lewe te verander.

“Ek het besef ek gaan daardie aand doodgaan as ek nie iets doen nie.”

Hy het by ’n vulstasie na ’n petroljoggie gestap en gevra of hy net sy pa kan bel.

“Hy het my in hulle kantoor in laat gaan en vir my iets gegee om te eet en te drink. Ek het gelukkig deur die jare my pa en my broer se nommers uit my kop geken omdat ek baie kere nie ’n foon gehad het nie.

“Ek was te bang om my pa te bel en het eerder my broer gebel. Toe ek die laaste syfer van sy selnommer intik het ek flou geword.

“Gelukkig het die oproep deurgegaan en die petroljoggie het met my broer gepraat en vir hom gesê waar ek is. Ek het twee dae later eers weer wakker geword in my pa se huis.”

Haasbroek kan nog onthou met hoeveel liefde sy pa hom behandel het toe hy wakker word en hoe bly hy was om hom te sien.


Edwin Haasbroek is vry na ’n lewe van dwelmveslawing en verwerping. Hy is verlede jaar getroud met dr Surita Haasbroek. Foto: Verskaf

Die lang pad na herstel begin
Sy lang pad na herstel en bevryding van dwelms het begin.

“Ek was vir twee jaar in ’n rehabilitasiesentrum en dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen weens al daardie gevoelens wat ’n mens ervaar van verwerping, spyt, skaamte en teleurstelling in jouself.

“Dit was twee jaar se stryd om te baklei teen die verslawing, maar aan die einde van die dag was dit so die moeite werd om vry te kom.”

’n Nuwe roeping
Haasbroek het na sy twee-jaar program vir nog vier jaar by die rehabilitasiesentrum, Anchor Recovery Ranch gewerk, wat tussen Potchefstroom en Parys geleë is.

Hy het in dié tyd sy kwalifikasie as gevorderde berader gekry en in 2022 uiteindelik gereed gevoel om sy vlerke te sprei en sy hoofstuk as permanente personeellid by die rehabilitasiesentrum afgesluit. Haasbroek het gesien daar is ’n gaping in die mark vir gerehabiliteerde mense.

“Wat gebeur met die ouens wanneer hulle die sentrum verlaat? ’n Mens moet dan heeltemal van voor af begin, werk soek en met ’n nuwe lewe begin.

“Baie ouens weet nie hoe nie, of sukkel met dit en val dan net weer terug op die dwelms.”


LEES OOK: AfriForum maak steeds slaggate reg op Bethal


Die droom om meer as rehabilitasie te bied
Hy het ’n droom gehad om ’n sentrum oop te maak waarheen mans kan gaan as hulle uit die rehabilitasie-sentrum uitkom waar hulle weer kan leer hoe om van voor af te begin.

Dié droom is in 2023 bewaarheid toe hy die Reintegrate Lifestyle and Development Centre op Vanderbijlpark oopgemaak het. In die eerste maand doen die mans oriëntering en sien gereeld die dokter, sielkundige, berader en gesondheidsafrigter.

Daarna, laat Haasbroek die mans vir agt maande werk in verskeie sektore wat elektriese werk, houtwerk, konstruksie, meganiese werk, sjef en meer insluit.

“Hulle werk elke maand in ’n ander sektor sodat hulle kan sien waarvan hou hulle en wat hulle wil doen vir die res van hul lewens.”

Haasbroek en sy span help ook die mans om CVs op te stel, om werk te kry of om hul eie ondernemings te begin of om ’n kwalifikasie te kry terwyl hulle nog by die sentrum bly.

Hulle help met finansiële beplanning en begrotings sodat die mans kan leer om verantwoordelikheid van hul finansies te neem wanneer hulle ’n werk gekry het.

Haasbroek lei ’n manne-groep wat twee keer weekliks bymekaar kom vir koffie en die Woord van die Here en hy leer die mans hoe om ’n geestelike verhouding met God te bou en neem hulle saam kerk toe.

Die sentrum kan tans 15 mans inneem en Haasbroek beplan om die sentrum later groter te maak en na ’n plaas te skuif. Hy wil dan ook ’n vroue-afdeling te begin.

Dwelms is nie die moeite werd nie
Sy pa is verlede jaar oorlede en sy broer sowat twee maande terug.

“Daardie is twee redes wat genoeg is om terug te val in dwelms, maar dit is nie die moeite werd nie.”

Haasbroek is verlede jaar getroud met dr Surita Haasbroek en sy help ook gereeld by die sentrum. As Haasbroek nie by die sentrum doenig is nie, bestee hy graag tyd saam met sy vrou en hul twee worshonde of hy kyk rugby.

“Ek help ander mense want ek is gehelp,” het Haasbroek afgesluit.

Vir meer inligting, skakel Edwin by 063 561 7102.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button