Vriendelike diens en goeie kos op die spyskaart by die Wimpy op Bethal
“Om te sien hoedat die publiek ’n koppie koffie Wimpy-koffie geniet, gee vir my groot plesier.”
Sy is jonk, dinamies en sedert 1 Julie die nuwe eienaar van die Wimpy op Delmas – haar naam is Isabel van der Merwe (24) en sy is ’n Delmasser in murg en been.
Isabel het vertel dat sy in 2019 haar matriek by Hoërskool Delmas verwerf het, maar voor dit het sy die tradisionele pad in Delmas gestap.
“Ek was in Heidi Kleuterskool, toe Laerskool Delmas en daarna Hoërskool Delmas, waar ek in 2019 die hoofmeisie was.”
Ná skool het Isabel onderwys aan die Universiteit van die Noordwes (NWU) gestudeer, waarna sy vir ’n jaar lank by Hoërskool Delmas skool gegee het.
Haar ouers is bekende boere en sakelui in die gemeenskap, en daar is besluit dat sy saam met haar pa en twee broers in die familiebesigheid betrokke sou raak.

“Ek het vir ’n wyle by ’n myn gaan werk, maar toe gesien dat die Wimpy in die mark is – ek het geweet dis ’n uitstekende geleentheid,” het Isabel vertel.
“Ek was juis op die uitkyk vir ’n nuwe besigheidsgeleentheid en uitdaging. Wat ek wel kan byvoeg, is dat die aankoop van ’n handelstak (franchise) nie net koop is en môre begin jy nie.”
Isabel het vertel dat dit intensiewe opleiding behels het – sy moes vir drie maande opleiding ontvang, insluitend administrasie, eerstehulp, brandbestryding en verskeie ander fasette.
LEES OOK: Woman sustain injuries when two vehicles collide at intersection in Delmas
Op ’n vraag aan Isabel of sy van kosmaak hou, het sy geantwoord: “Ja, beslis – en ek is ook baie lief vir mense, vir kommunikasie en vir saamkuier. Om te sien hoe die publiek ’n koppie Wimpy-koffie geniet, gee vir my groot plesier.”
In haar vrye tyd bestee sy tyd in die gimnasium, is kunsinnig en boonop ook ’n jagter. Isabel is entoesiasties oor die vooruitsig van verskeie strukturele veranderinge by die Wimpy op Delmas. Sy wil onder andere weer ’n speelplek vir kinders oprig.
“Ek wil ook graag meer deel wees van die gemeenskap – daar lê baie opwindende dinge voor,” het Isabel met ’n glimlag gesê.
Duidelik wou sy nie alles uit die mou laat nie – die gemeenskap van Delmas en omgewing sal glo egter binnekort weet wat sy alles beplan.
Isabel is dus ’n jong vrou met vele talente, en duidelik opgewonde oor haar nuwe avontuur as Wimpy-eienaar op Delmas.
“Dit is ’n groot eer om deel te wees van ’n handelsmerk wat bekend is vir kwaliteit, goeie diens en ’n gesellige atmosfeer,” het Isabel afgesluit.



