Local newsMunicipalNews

AfriForum verwelkom minister se besluit

Govan Mbeki Munisipaliteit skuld Rand Water miljoene.

AfriForum het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se besluit verwelkom om die Julie 2025-uitbetaling van billike-aandeel- en voorwaardelike toelaes aan 39 munisipaliteite terug te hou.

Dit volg op die versuim van dié munisipaliteite, waarvan Govan Mbeki Munisipaliteit een is, om hul finansiële verpligtinge na te kom.

Volgens Artikel 216(2) van die Grondwet het die nasionale tesourier die mag om oordragte aan munisipaliteite te staak indien hulle voortdurend bestuursmaatreëls oortree. Die tesourier sal dele van die geld voorwaardelik vrystel vir die betaling van lopende en agterstallige skuld aan Rand Water en ander krediteure.

Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir plaaslike regeringsake, het gesê munisipaliteite is vir te lank toegelaat om openbare geld te vermors sonder enige nagevolge.

“Jaar na jaar skets die Ouditeur-Generaal se verslae ’n donker prentjie van munisipale finansies, wat gekenmerk word deur onbefondsde begrotings, korrupte tenderprosesse, onreëlmatige uitgawes en onbetaalde statutêre verpligtinge,” het Steffens gesê.


LEES OOK: Rayton se Miané maak haar land trots tydens internasionale kompetisie


“Ten spyte van herhaalde waarskuwings was daar geen werklike gevolge nie. ’n Gebrek aan optrede het ’n kultuur van wanbestuur en korrupsie gekweek.”

Govan Mbeki Munisipaliteit is een van die grootste oortreders in dié verband en skuld Rand Water alleen meer as R800 miljoen.

“Dié geweldige skuld bedreig plaaslike watervoorsiening en veral die finansiële volhoubaarheid van waterverskaffers soos Rand Water,” het Steffens gesê.

AfriForum is ook al vir jare in ’n hofstryd teen Rand Water gewikkel om inwoners se regte te beskerm, wat weens tekortkominge in munisipaliteite bedreig word.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het raadslede en selfs die burgemeester van Govan Mbeki Munisipaliteit in hul persoonlike hoedanigheid gesamentlik meer as R800 000 in agterstallige munisipale skuld.

“Dit is onaanvaarbaar dat diegene wat aangestel is om te regeer en inkomste in te vorder, onder die grootste wanbetalers tel,” het Bekker gesê.


LEES OOK: Older home owners get a breather on property tax in Govan Mbeki Municipality 


“Intussen kla munisipale amptenare gereeld oor onwettige elektrisiteitsverbindings wat hul Eskom-rekeninge laat styg omdat hulle nie die kragverbruik kan meet en daarvoor kan hef nie, maar hulle kyk anderpad om hul eie raadslede wat miljoene skuld, te beskerm.”

Dele van Bethal het verlede jaar vir drie maande geen water gehad nie, weens drukverlaging wat deur Rand Water toegepas is vanweë agterstallige rekeninge.

“AfriForum het in dié tyd, in samewerking met boere uit die gemeenskap, twee miljoen liter water gratis aan die gemeenskap gelewer.

“AfriForum sal voortgaan om die implementering van die Nasionale Tesourie se plan fyn dop te hou en sal munisipaliteite aanspreeklik hou om aan hierdie voorwaardes te voldoen.

“Gemeenskappe verdien basiese dienste en ’n eerlike regering, nie ’n kleptokrasie wat openbare geld verorber terwyl inwoners sit met droë krane, rioolbesoedeling en donker strate nie,” het Steffens afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button