10-jarige van Secunda benodig hulp om te keer dat sy heeltemal blind word
Help dogtertjie om na Duitsland te gaan vir mediese sorg.
Luané Cornelissen (10) se lewe het onherroeplik verander toe sy in Mei vanjaar met Stargardt-siekte, ’n genetiese toestand wat ’n persoon se sig aantas, gediagnoseer is.
Sy het, toe sy agt jaar oud was, vir haar ma, Uanita Cornelissen, gesê dat sy nie op die bord by die skool kan sien nie.
“Ons het haar toe na ’n oogarts geneem en sy het ’n bril gekry. Sy kon steeds nie sien nie en mense het vir ons gesê haar oë moet eers aan die bril gewoond raak, maar selfs ná ’n paar weke kon sy steeds nie daarmee sien nie,” het Uanita vertel.
Uanita het Luané weer na die oogarts geneem. Uanita het Luané weer na die oogarts geneem en hy het verskeie toetse gedoen en gesê niks is fout nie en dat sy sterker lense vir haar bril moet kry.
Uanita het toe besluit om haar eerder na ’n oogspesialis in Pretoria te neem en dié spesialis het bevestig dat Luané besig is om blind te word.
“Dit was verskriklik om daardie nuus te kry en Luané het vir my gesê: ‘Mamma ek wil nie blind word nie’,” het Uanita gesê.

Na nog toetse het die spesialis bevestig dit is Stargardt-siekte en gesê daar is niks wat hulle vir haar kan doen nie.
“Suid-Afrika se spesialiste is nie so ver gevorderd soos spesiaiste in Berlyn in Duitsland nie en ons sal haar graag daarheen wil neem.
“Daar kan hulle ’n prosedure doen wat haar dalk weer kan laat sien, die kanse is 50/50.”
Intussentyd moet Uanita na Luané se dieët kyk, sy mag geen vitamiene A inneem nie en sy het ook ’n leser gekry wat haar kan help om woorde in ’n boek te lees. Stargardt-siekte, tas ’n mens se sentrale sig aan en veroorsaak dat ’n mens net visie na die kante het en niks voor nie.
“Ons hoop maar dat dit nog jare sal wees voordat sy heeltemal blind word, ons probeer die proses vertraag.”
Haar ouers samel tans geld in om haar na Duitsland te neem, want net die prosedure alleen sal sowat R360 000 kos.
“Ons het geen waarborg dat dit sal werk en dat sy haar sig sal terugkry nie, maar ons wil die kans vat want Luané is nog jonk so ek glo dit sal ’n sukses wees as ons haar vir die prosedure na Duitsland neem.
“Sy het dit dringend nodig en ons wil hê sy moet so gou as moontlik gaan vir die prosedure.”
Luané was ook onlangs op die radiostasie, Jakaranda, se program wat deur Martin Bester aangebied word, ‘Good Morning Angels’ en hulle het R50 000 vir Luané ingesamel.
Die gesin het ’n mediese fonds, maar dié fonds betaal net vir sekere van die toetse en doktersafsprake. Sy gaan ook binnekort teleskopiese lense kry om haar te help om beter op die bord te sien by die skool.
Uanita beplan om binnekort ’n geldinsamelingsgeleentheid by Oregon Spur in Secunda Mall te hou op 26 Augustus en later vanjaar ’n gholfdag.
Die gesin het ook ’n ‘BackaBudy’-profiel vir Luané oopgemaak om geld in te samel. Luané is ’n akrobaat en het graag skaak gespeel voordat haar sig so begin verswak het.
Haar ma wil haar ook stuur om genetiese toetse te doen sodat sy kan sien watter soort Stargardt-siekte Luané het en dié toetse kos sowat R10 000 en die mediese fonds betaal nie vir dit nie.
As jy Luané wil help en haar en haar gesin se wens om haar na Duitsland te stuur wil help waarword, besoek haar ‘BackaBuddy’-profiel by “Luané Stargardt’s”.
LEES OOK: Children discover body of new born baby in river in eMbalenhle
LEES OOK: Disgruntled Evander residents want transparency from GMM regarding electricity



