Secunda VLU oorhandig handsakke vir vroue in nood
Belangstellendes is welkom om klets en kuier-oggend op 17 September by te woon.
Vroue van die plaaslike VLU-tak het op 6 Augustus by Davieshof bymekaar gekom waar Adjudant Offisier Erika Schwartz van die vroue- en kinderbeskermingseenheid (FCS) die vroue toegespreek het.
Schwartz het gesê daar is ’n stigma wat aan vroue kleef wanneer hulle by mans bly wat hulle mishandel.
“Wat mense nie altyd besef nie, is dat daardie vrou se selfbeeld en selfvertroue só afgebreek word deur die man, dat sy naderhand geen identiteit meer het nie,” het Schwartz gesê.
“Ek vergelyk dit met ’n dobbelmasjien. Jy wen baie in die begin as jy net begin dobbel, maar hoe langer jy speel, hoe meer geld moet jy ingooi en hoe minder wen jy. Jy gooi naderhand baie meer geld in die masjien as wat jy uitkry.
“Dit is dieselfde vir ’n vrou wat in ’n verhouding of huwelik van mishandeling vasgevang is.”
Sy het vroue wat mishandel word aangemoedig om ’n saak by die polisie aanhangig te maak en om dan ’n beskermingsbevel teen die man aan te vra.
“Dit is ’n lang proses om ’n saak aanhangig te maak, want die hofrolle is vol. Vroue moet dit sien as ’n hulpmiddel en voorbereiding vir die pad vorentoe.”
Volgens Schwartz word vroue in gewelddadige verhoudings gewoonlik geïsoleer van hul vriendinne en familie en is hulle dikwels finansieel afhanklik van die man omdat hulle opgehou werk het of geen ander vorm van inkomste het nie.
LEES OOK: Pigs ‘n Paws buite Bronkhorstspruit is ‘n veilige omgee-hawe vir weggooi-varke
“Baie slagoffers besef nie dat dit nie net die plek is waar die misdaad plaasgevind het nie, maar ook dat jou liggaam ’n misdaadstoneel is – veral in gevalle van verkragting,” het Schwartz gesê.
Die vroue van die VLU Secunda-tak het, as deel van die VLU se jaarlikse projek, handsakke bymekaargemaak en met toiletware, Bybels en ander benodighede gevul.
Hulle het dié handsakke Woensdag aan Schwartz oorhandig vir die vroue- en kinderbeskermingseenheid. Die VLU Secunda-tak hou hul volgende vergadering op 17 September in die vorm van ’n klets en kuier-oggend.
Belangstellendes is welkom om dié oggend by te woon. Vir meer inligting, skakel Rosa Black by 082 586 9638.



