Jong man van Bronkhorstspruit wat in rugbywedstryd beseer is, is dankbaar vir hulp wat instroom
Danksy ortopediese sjirurg, dokter Helene Basson en die span van Operation Healing Hands is Rico Eagles op 10 Augustus suksesvol geopereer.
Onbeskryflike dankbaarheid en verligting oorheers vandeesweek die gedagtes van Rico Eagles (22) en sy ouers, Marcus en Lorraine.
Dié Bronkhorstspruit-boorling is Dinsdagoggend uit die hospitaal ontslaan ná ‘n nekoperasie Sondag in die Life Eugene Marais-hospitaal in Pretoria.
Vóór dit het Rico vir twee weke in geweldige pyn in ‘n hospitaalbed in Mamelodi gelê.
“Tussendeur die ondraaglike pyn het die algehele gevoel van magteloosheid en hulpeloosheid my gesmoor. Ek moes maar net daar lê en wag tot ‘n bed in Steve Biko Hospitaal eendag sou oopgaan.
“Die tekort aan inligting oor wat met my gaan gebeur, was erg. Ek het nie geweet of ek daar sou uitkom nie. Ek het oorweeg om myself uit te teken, want op daardie tydstip het ek gedink dit sou beter wees wees om verlam as dood te wees,” het dié jong rugbyspeler van Bronkhorstspruit vertel.
Rico, ‘n veelsydige en blitsige agterspeler, het op 26 Julie op buitesenter teen Pretoria Rugbyklub uitgedraf.

“Ek onthou dat ek die bal ontvang en ‘n opening gesien het. Ek het nog gehardloop toe iemand my opgetel het. Ek het ‘n harde hou gevoel toe my kop die grond getref het, en het dadelik besef iets is fout. My nek en rug was baie seer. Ek was van balans af en my linkeroog het nie op lig reageer nie,” Rico verduidelik.
“Ek is teleurgesteld dat die speler wat my getakel het, nie met ‘n rooikaart gestraf is nie. Die wedstryd het net verder aangegaan terwyl ek beseer was,” het Rico gesê.
Op die paramedikus van First Care Nooddienste op Bronkhorstspruit se aandrang, is Rico van die veld af en na die staatshospitaal op die dorp geneem.
“Die X-strale-afdeling was reeds toe, en ek is toe na Mamelodi geneem,” het Rico verduidelik.
Hy is nie lid van ‘n mediese fonds nie. Volgens Rico se pa, Marcus, het sy seun vir 48 uur in die ongevalle-afdeling van die hospitaal gelê vóór hy uiteindelik gehelp is.
“Dit het nóg ‘n dag geneem voordat ‘n dokter by Rico uitgekom het. Bykans geen inligting is met ons gedeel nie, behalwe dat Rico frakture in sy nek en rug het,” het Marcus vertel.

Rico is in traksie geplaas, maar volgens Marcus was geen katrolwiel gebruik nie en het die gewigte direk van die bed afgehang.
“As ons hom nie gevoer het nie, het Rico nie kos gekry nie,” het Marcus gesê.
Die laaste strooi vir Marcus en Lorraine, was toe die penne van die klamp om Rico se kop uitgeskeur het.
“Die wonde was net so gelos en eers die volgende dag skoongemaak, maar toe het infeksie reeds ingetree,” het Lorraine vertel.
Frustrasie en bekommernis oor haar kind se welstand het dié ma na sosiale media laat draai waar Michelle Sewell van Standerton, wie se seun ook vroeër vanjaar ná ‘n rugbybesering hulp benodig het, van Rico te hore gekom het.
“Michelle is ‘n yster. Sy het onmiddellik ‘n BackaBuddy-rekening gestig. Danksy familielede, my verloofde Louis Joubert, en André Bester wat Rico se storie op sy Facebookblad, SupaRugby, gedeel het, is daar bykans oornag meer R200 000 geskenk,” het Lorraine vertel.
Dié geld het hulle in staat gestel om Rico op 9 Augustus na die Life Eugene Marais Hospitaal te laat oorplaas.
Danksy ortopediese sjirurg, dokter Helene Basson en die span van Operation Healing Hands is Rico Sondag suksesvol geopereer. Basson het in ‘n video verduidelik dat die C6 en C7-werwels aanmekaar geheg is.
Rico moet nou vir ses tot agt weke ‘n harde nekstut dra en fisioterapie ontvang. Dit gaan nog weke neem voor Rico weer na sy werk as ontwerper by Blank Space op Bronkhorstspruit sal kan terugkeer.
“Dit is hartseer dat ek nie meer sal kan rugby speel nie, want ek het my lewe lank rugby beoefen. Ek het sedert 2020 vir Bronkhorstspruit Rugbyklub uitgedraf,” het Rico gesê.
Hy was nog altyd ‘n sterk atleet en het op skool veral in die 100m-naellope uitgeblink. Sy vinnigste tyd in dié item was 10.2. Hy is vol lof vir dr. Basson en haar span, die personeel van die Life Eugene Marais Hospitaal, asook almal wat hul harte en beursies oopgemaak het om hom te help.
“Ek kan nie wag om weer by die huis te wees nie en om my meisie, Michelle, te sien nie,” het Rico afgesluit kort voor hy ontslaan is.
Intussen is die Rico Eagles Initiative-blad op Facebook deur Sewell begin met die hoop om geld in te samel sodat, wanneer ‘n rugbyspeler wie nie oor mediese dekking beskik nie, ‘n besering opdoen, hy onmiddellik gehelp kan word en nie eers weke in ‘n staatshospitaal moet lê en wag op donasies.




