Local newsNews

Vrou van Standerton gee om vir haar gemeenskap

Esther van der Merwe voer al sedert 2010 die gemeenskap, en baie van haar skenkings kom uit haar eie sak.

Esther van der Merwe voed die gemeenskap van Standerton en Morgenzon al sedert 2010, toe sy die behoefte deur haar pa raakgesien het.

“My pa het destyds ’n pensioen van slegs R760 ’n maand gekry en daarmee moes hy huur betaal, kos koop, en sorg vir ander benodighede,” het sy gesê.

Op daardie tydstip het van der Merwe in twee huishoudings gebly en moes tussen haar dogter, Enili, se operasies en haar pa se behoeftes rondswerf. Die pensioentoelaag van haar pa het haar aan ander bejaardes in die gemeenskap laat dink.

“Hoe moet ’n mens daarop oorleef?” het sy gevra.

Só het sy begin om bejaardes uit haar eie sak te versorg en oor die jare talle haweloses aangeneem wat byna daagliks by haar kos kry.

Hoewel sy nou vir haweloses van alle ouderdomme sorg, bly bejaardes haar eerste prioriteit. Sy vertel van ’n bejaarde vrou onder haar sorg wat op haar eie aangewese is.


Esther van der Merwe gee brood aan ’n vrou in nood. Foto: Zell-Mari de Jager

“Sy is tans bedlêend en kan nie vir haarself sorg nie. Die pensioen wat sy vanaf die munisipaliteit kry kan nie al haar benodighede dek nie.”

Daarom het sy ’n vrou wat voorheen haweloos was aan haar voorgestel.

“Ek het vir haar ’n werk gegee, wat ook haar selfbeeld en gevoel van waarde gehelp het,” het van der Merwe verduidelik.

Sy beskryf die behoefte in Standerton as enorm, met baie bejaardes in die gemeenskap wat sukkel.

“Hierdie is goeie mense, hulle het net min geld,” het van der Merwe gesê.

Sy verduidelik die meeste van die mense wat sy voed, werk hard om ’n lewe bymekaar te kan skraap. Hulle werk in tuine, vang platannas, herwin en doen enige klein takies om net ’n bietjie geld in te samel.


LEES OOK: Jerigo Opheffingsoord in Eloff receives 500 tins of canned foods


Van der Merwe het voorheen afvalprodukte by Pick n Pay gekry en kon daarvan die 20 gesinne wat onder haar sorg is voed.

“Na die dood van Rene Lea, het alles verander en nou sukkel ek om daardie pakkies terug te kry,” het sy gesê.

Haar hart gaan uit na die wie se lewens deur onvoorsienbare omstandighede omgekrap is.

“Dit is traumaties om te moet wonder waar jou volgende bord kos vandaan kom en ongelukkig is daar slegs ’n handvol mense wat instaan om hierdie mense te versorg.”

Van der Merwe beweer dat liefdadigheidsorganisasies soms self wanvertroue in die gemeenskap skep.

“Mense is bang om te skenk omdat hulle glo die geld word gesteel. Dit is hoekom deursigtigheid so uiters belangrik is,” het sy gesê.

Sy meld met elke skenking aan wat sy aangekoop het en waar dit geskenk is. Mense wat haar wil bystaan, kan haar op 082 310 5344 bel.



LEES OOK: eMbalenhle learners protest sexual abuse allegations, demand release of Sihle Mabena from police custody

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button