Thia groet Streeknuus
Dankie aan elkeen van my leermeesters, my redakteurs, my kollega’s oor die jare – elk uniek in sy of haar manier van doen en menswees, maar by elkeen kon ek leer en groei in my denke en waarneming.
Ek sal nooit my eerste werksdag op 3 Desember 2018 vergeet nie. Met blink oë was ek opgewonde om ‘stories’ vir Streeknuus te skryf.
Twee weke later het my redakteur, Graeme Campbell, my kamera aan my oorhandig. Ek het die gedoente met sy baie knoppies en verstellings bekyk en gewonder hoe ek dit ooit gaan baasraak. Gelukkig was daar ’n Larizza Steup op kantoor en sommer gou-gou het ek die basiese werking verstaan en my kamera eie gemaak.
Deur die lens van my kamera het ek soveel aksie, emosie, hartseer, geluk, prestasies en die dood meegemaak. Klein haasbek Graad Een’s was vasgevang, matriekafskeid op die rooi tapyt, menige kerk- en gemeenskapsfeeste, die jaarlikse rugbyweek by Laerskool Delmas, die skolesport met atletiek, rugby, hokkie, krieket, netbal en vele meer.
Die gul ontvangs en verwelkoming by skole- en kleuterskool funksies, het my menigmale met ’n glimlag laat voortgaan wanneer die lyf en gemoed moeg was.
Ek was daar om Heidi Kleuterskool se 55ste verjaarsdag te vier en toe weer onlangs hul 60ste verjaarsdag. Wat ’n eer om in die ryk geskiedenis te kon deel.
Spesiaal ook was die onderskeie aftredes van skoolhoofde – Laerskool Sundra se Tinus Cremer, Laerskool Eloff se André Gildenhuys en Laerskool Delmas se Johan de Beer.
Opstande, brandende bande en munisipale verkiesings was deur my kameralens vasgevang. Rioolstortings, watertekorte, slaggate en die mens se reaksie daarop. Ek was daar waar seniors en soms gestremende inwoners in rolstoele by JoJo-tenks moes gaan water afhaal.
LEES OOK: UPDATE: Campus manager shot in his vehicle in Delmas
Ek en my kamera het ’n ma vasgevang waar waterkanne en ’n kleuter deur die ma op ’n kruiwa huis toe gestoot was, want by die huis het meer honger en vuil mondjies gewag.
Geldinsamelingsgeleenthede bring kleurvolle foto’s en berigte vir die daaropvolgende koerant. Die rugbyklub op Delmas was deur vlamme verswelg en die kamera het ook daar die hartseer vasgevang. Huise wat afgebrand het en die hartseer van roetbesmeerde gesigte met traanstrepe was vasgevang.
Ek kon deel in die groei en vooruitgang van Delmas Rolbalklub; die rugbyklub se wen- en verloor, die gholfklub se langste drywe, afslane en wenners van toernooie en kampioenskappe.
Ek het gedeel in die plaaslike tak van die VLU se doenighede, kuns en gesellige saamwees. Ons Eie Ouetehuis op Delmas het vir menige trane gesorg wanneer ek spontaan na my eie ouers verlang het.
Hartseer was daar baie, die afsterwes van geliefde inwoners van Delmas en omgewing, ouers wat hul kinders moes begrawe en my omgewing se eerste Covid-gevalle.
Daar was moorde, onbekende liggame langs paaie gevind en dan was daardie plaasmoorde- en aanvalle – daar waar die kamera ook geklik het, maar dit het ’n dieper seer gebring.
Daar was die gru-ongelukke waar ek foto’s geneem het wat die dood en hartseer vasgevang het. Daar was vele hofsake, sommige waar daar in afwagting van verhore en vonisse, baie tyd saam deurgebring is, en sommiges het soos eie familie geword.
LEES OOK: Know the signs of an asthma emergency in children: A paediatrician’s message to parents and teachers
Daar was stories rondom massiewe sonneblomme, gegroei in die omgewing, ’n honderd-jaar-oue boom wat geval het, die jaarlikse Kosmos-skouspel van kleur, die skade ná ’n tornado wat Delmas en omgewing getref het, ’n tweeling wat hul 90ste verjaarsdag in 2025 saam kon vier en soveel meer.
Natuurlik was daar ook Delmas Herleef, ’n instansie gebore onder die hand van Madel Fourie. Fourie het haar liefde vir Delmas met albei hande vasgevang, om hulp geroep en saam met doktor Martin Janse van Rensburg en vele vrywillige hande die dorp tot kykNet se 2023 Dorp van die Jaar opgehef, en my kamera was daar.
My liefde vir skryf was altyd daar, maar joernalistiek was heelwat anders en ek moes ek baie gou leer om by die Perskode van Suid-Afrika te hou, dat ek nie ’n mening mag hê nie en dat kritiek deel was van joernaliswees. Ek kon steeds met my foto’s praat en die vele ‘baie dankies’, nadat ’n berig verskyn het, was my grootste inspirasie.
Dankie aan elkeen van my leermeesters, my redakteurs, my kollegas oor die jare. Elkeen was uniek in sy of haar manier van doen en menswees, maar by elkeen kon ek leer en groei in my denke en waarneming.
Nog ’n groter dankie aan die gemeenskappe van Delmas, Sundra, Eloff en meer onlangs ook Bronkies, Cullinan, Witpoort en Rayton – dankie aan elkeen wat my met hul drome, vrese en stories vertrou het.
’n Groot dankie vir my man, Carel Botha, wat my ‘spertyd-histerie’ met geduld verdra het, my kamerasak gedra het wanneer die dae lank en warm was en my vergesel het wanneer gevaar geroep het.
Dankie aan my Skepper vir lewenslesse geleer en U veilige Hand oor my. Met groot heimweë en baie kosbare herinneringe groet ek Streeknuus.



