Local newsNews

Madeleen geniet werk as hoof by Christenskool tussen Evander en eMbalenhle

Adullam Christian School-personeel het sendingharte.

Madeleen Coetzee (43) is al vir 21 jaar by die Adullam Christian School betrokke. Adullam Christian School is tussen Evander en eMbalenhle by die Adullam Sendingstasie geleë en het sowat 55 leerders vanaf grade een tot sewe.

Die skool is een van die drie bene waarop die sendingstasie funksioneer. Coetzee het dié skool as ’n skool met ’n sendinghart beskryf en gesê die personeel is passievol oor die kinders.

“Ons probeer die skoolfonds so laag as moontlik hou want dit gaan vir ons oor die kinders, nie oor geld nie,” het Coetzee gesê.

Daar was ook ’n koshuis vir leerders van dié skool, maar Coetzee het gesê hulle het dit ná die Covid-19 pandemie toegemaak omdat dit nie meer die moeite werd was om die koshuis oop te hou vir net ’n paar kinders nie.

Coetzee het in 2005 by die skool begin werk as onderwyser en in 2015 die leisels as hoof van dié skool oorgeneem. Sy en haar man, ds Leon Coetzee, wat self ook op die sendingstasie gewerk het, en van hul kinders het op die sendingstasie gewoon. Vroeër vanjaar het hulle Kinross toe getrek omdat haar man beroep is as leraar by die NG Kerk.

“Dit was nogal ’n groot aanpassing vir ons almal om na soveel jare op die sendingstasie weg te trek en nou in die dorp te woon. Dit is vir ons baie stil in die dorp, want op die sendingstasie was ons bure naby aanmekaar en ons het die hele tyd mense gesien.”

Sy en haar man het Adullam Sendingstasie vanaf 2019 tot laas jaar bestuur. Haar liefde vir sendingwerk en die skool is duidelik as sy praat oor die skool.

Hoewel Adullam Christian School deesdae net leerders tot Graad Sewe vat, het hulle vroeër jare ook hoërskoolleerders gehad en al 20 matrikulante gehad in die verlede.

Van dié leerders is vandag dokters en onderwysers. Coetzee het op die ouderdom van 41 swanger geraak met ’n laatlam en het nog drie ander kinders wat almal ouer as 16 is.

“Ek het gebid vir ’n verandering in my lewe en toe raak ek swanger,” het Coetzee vertel.

In haar vrye tyd geniet sy dit om te lees of gras te sny. “Dit is vir my terapeuties om gras te sny.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button