AfriForum sny gras en vul slaggate op Bethal
Organisasie vorder met saak teen Rand Water.
Die plaaslike tak van AfriForum het gedurende September gereeld instandhoudingswerk in die dorp gedoen en slaggate herstel.
Tydens hul slaggatprojek in Tsibitso Sibanyonistraat het hulle 140 sakke teer gebruik om die gate te vul. Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, het die gemeenskap die teer geborg en AfriForum die herstelwerk behartig.
“Daar is ook meer as 10 ton doleriet gebruik om slaggate in Hoëveldlaan en Van Der Stel-laan mee op te vul,” het Bekker gesê.
Hy meen die toestand van dié twee strate is al so vervalle dat dit nie meer die moeite werd sal wees om dit te teer nie.
“Dit is hoekom AfriForum slegs met ’n korttermynoplossing help sodat motoriste steeds die paaie sal kan gebruik.”
Ingrid Human, die voorsitter van AfriForum Bethal-tak, meen die Govan Mbeki Munisipaliteit voel vere vir die dorp.
“Hulle herstel nie meer ’n enkele straat aan die oostekant van die middedorp nie,” het Human gesê.
“Hulle grawe orals slote en los dit half oop en gevul met doleriet. Die ergste is dat die munisipaliteit eintlik ons grootste probleme veroorsaak met die slote wat oral oopgaan.”
Verder het dié AfriForum-tak ook reeds begin met grassny-projekte voordat die bossies te hoog groei.
Volgens Bekker is die gras by die Nestlé-driehoek en omliggende gebiede reeds gesny, en daar is beplan om binnekort met die skoonsny van die N17 te begin.
Tydens die onlangse waterkrisis het AfriForum se noodwaterpunte 24 000 liter water aan inwoners verskaf. Bekker het gesê, alhoewel dié waterkrisis nie die vlakke van die 2024-krisis bereik nie, bly AfriForum gereed as dié situasie weer opduik.
“Ons maak ook goeie vordering in die regsaak teen Rand Water,” het Bekker gesê.
Dié saak is al lank in die pyplyn waar AfriForum ’n hersieningsaansoek teen Rand Water gebring het om die besluit om die Govan Mbeki munisipale gebied se waterdruk te verlaag ongrondwetlik en onbillik te laat verklaar.
Volgens Bekker kom daar in Februarie volgende jaar ’n interlokutêre aansoek voor omdat Rand Water nie al die inligting, soos deur die regsproses vereis, aan AfriForum voorsien nie.
“Ons veg vir ons dorp en ons mense. Dié geveg vind in die howe plaas, maar terselfdertyd bou ons. In sekere gebiede op Bethal kan ’n mens duidelik die verskil sien wat AfriForum maak.
“Ons sal aanhou veg en versoek dat mense met mekaar praat om ons te help en ondersteun.”




