Motorklub op Standerton spog met opgeboude bakkies
Die Hakatora Motorgroep spesialiseer in Nissan 1400 bakkies.
Die Hakatora Motorklub spesialiseer in die opbou van ou Nissan 1400 bakkies. Volgens Rudi Hahn, klubstigter en voorsitter, vergader die Hakatora Motorklub al sedert Oktober 2023.
Die klub bestaan tans uit 16 lede, en elkeen besit sy eie opgeboude Nissan 1400-bakkie. Hahn het verduidelik dat dié groep sy naam gekry het van die Japannese benaming vir die Nissan 1400-bakkies.
“Wanneer ’n bakkie opgebou word in Japan, word dit ’n Hakatora genoem,” het Hahn gesê.
Daarom kan Japannese temas oral in die Hakatora-groep se voertuie gesien word.
Volgens Hahn is die Nissan 1400-bakkie wêreldwyd bekend vir betroubaarheid. Die voertuie is in hul fleur gebruik as afleweringsvoertuie.
Hoewel die voetuie nie meer vervaardig word nie, bly die Nissan 1400 bakkie ’n staatmaker. Hahn glo dat dié bakkies eendag versamelingsitems gaan word.

Hy verduidelik dat dit, afhangende van die wysigings wat die eienaar wil maak, langer as twee jaar kan neem om ’n Nissan 1400-bakkie op te bou.
Daar is verskeie wysigings wat aan so ’n bakkie gemaak kan word, insluitend die installasie van turbo’s, enjins en ander bykomstighede om die voertuig te verfraai. Sommige liefhebbers verleng selfs hul bakkies.
“Boonop is die bakkies nog vinnig ook en kan oor 400m teen snelhede tot 289km/h ry,” het Hahn verduidelik.
Een van die oudste bakkies in die Hakatora Motorklub-versameling is tans 43 jaar oud. Die Hakatora-groep is geensins ’n ‘old boys club’ nie en bied geleenthede waar die hele gesin kan saamry.
Hulle wil graag maandelikse wedrenne in samewerking met die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit en ambulansdienste reël, waar motorliefhebbers bymekaar kan kom en wettig aan wedrenne kan deelneem.
LEES OOK: Lekwa appoints new Chief Financial Officer
LEES OOK: ANC Retains Ward 14 in eMbalenhle by-election



