Secunda-tiener wen silwer op wêreldkampioenskap vir fiksheid
15-jarige verteenwoordig Suid-Afrika in Spanje.
Amoré Roets (15), ’n leerder aan Hoërskool Secunda, het ’n silwer medalje huistoe gebring van die International Bodybuilding and Fitness Federation (IFBB) se wêreldkampioenskap in Spanje.
Amoré en haar ma, Madelein Roets, het in November na dié geleentheid gereis en dit was vir albei hul eerste keer oorsee. Dié jong atleet het tweede in die junior vroue-enkel-silwerafdeling geëindig, derde in die vroue-ope-bronsafdeling en sesde in die ‘speedfit’-afdeling.
Sy moes meeding teen vroue tot die ouderdom van 25. Amoré sou saam met haar pa, Tjokkie Roets, na Spanje gereis het en dié twee sou as ’n span deelneem, maar weens werksverpligtinge kon Tjokkie nie die reis meemaak nie.
Hy het Amoré egter aangemoedig om in te skryf en die geleentheid steeds aan te gryp. Sy wil volgende jaar weer aan die IFBB-wêreldkampioenskap te gaan deelneem en sy is gemotiveerd om al haar doelwitte te bereik.

Amoré is vanjaar en verlede jaar gekies om aan die Mussa Atletiekkampioenskap deel te neem, maar het nee gesê omdat dit met haar netbal gebots het.
Sy het nou besluit om volgende jaar die netbal te los en op haar atletiek te fokus. Sy mik vir die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap.
Amoré het in haar laerskooldae reeds hekkies begin doen en berei tans voor vir volgende jaar se atletiekseisoen. Sy het nog altyd van oefen en fiksheid gehou en oefen daagliks in die Rip & Grip gimnasium.
Madelein wat ook daagliks in die gimnasium oefen, probeer Amoré oortuig om ‘Hyrox’ te doen, maar Amoré verkies ‘CrossFit’.

“Hyrox is vir my baie erger as ‘CrossFit’,” het sy gesê. “Ek sal Hyrox doen as ek weet dit gaan my help met my hekkies. Met Hyrox voel jy of jy doodgaan, met CrossFit is dit klaar net voordat jy voel jy gaan dood.”
Amoré se droom is om eendag haar eie gimnasium oop te maak en sy wil na skool studeer om ’n biokinetikus te word. Sy gaan gedurende die skoolvakansie by Rip & Grip-gimnasium ’n oefengroep vir kinders lei en sien uit na dié nuwe uitdaging.
Dié ma en dogter kon darem by ’n straat-gimnasium in Spanje gaan oefen en het dit geniet om bietjie van dié land te sien. In haar vrye tyd kuier Amoré graag saam met vriende, kyk motorsport, luister musiek, doen huiswerk of gaan stap met haar Duitse herdershond, Hunter.
Sy het haar ouers, boetie en almal wat bygedra het tot haar reis, vir hul ondersteuning bedank en gesê sy wil ook haar hemelse Vader bedank vir die geleentheid.
LEES OOK: Vier van Secunda ryg medaljes in by wêreldkampioenskap
LEES OOK: Soccer teams vie for title at wellness day in Standerton



