Local newsNews

Standerton groet geliefde tannie Natie

Natie Strydom is in die ouderdom van 90 jaar en 9 maande by die Kosmos Aftreeoord oorlede.

Natie Strydom, ’n oud-inwoner van Standerton en die Kosmos Aftreeoord, is op 26 Januarie oorlede – net voor haar 91ste verjaardag.

Sy was op 13 April 1935 in Frankfort gebore en het op Plaas Broederstroom groot geword.

Natie het in 1979 saam met haar familie na Standerton verhuis en het vir 17 jaar by OTK Standerton en Holmdene gewerk.
Geliefdes beskryf Natie as ’n hardwerkende vrou wat min gekla het.

Sy het drie seuns in die wêreld verwelkom, was ’n ouma van vyf kleinseuns en het een agterkleinseun gehad.

“Hoewel my ma nooit haar agterkleinseun ontmoet het nie, het sy dit geniet om video’s en foto’s van hom te kry. Sy was bitter lief vir al haar kleinkinders,” het Meyer Strydom, haar jongste seun gesê.

In haar jongdae het Natie saam haar man met hoenders geboer. Volgens Meyer het hulle gereeld kuikens aangekoop, grootgemaak en weer verkoop.


old woman with a hand made bird
Natie Strydom het oral waar sy kon deelgeneem. Foto: Verskaf

Suster Patria Du Plooy van die Kosmos Aftreeoord het vertel dat dié liefde vir hoenders tot in haar kunswerke by die tehuis geskitter het.

“Sy wou altyd prentjies van hoenders inkleur en het selfs ’n geraamde prent teen haar muur gehou, waarmee sy by almal gespog het,” het Du Plooy verduidelik.

Volgens Du Plooy was Natie ’n inwoner van die oord vanaf 18 Augustus 2019 en sy het gou in die personeel en ander inwoners se harte geklim.

Natie was betrokke by elke aktiwiteit wat sy moontlik kon bywoon. Sy was ’n gereelde bywoner van die kunsklas, het graag Bingo gespeel en het getrou Bybelstudie bygewoon.

Selfs toe haar liggaam vanweë ouderdom begin agteruitgaan, het sy altyd ’n plan gemaak om die nuutste byeenkoms by te woon.
Sy het met laser-akkuraatheid ingekleur, selfs al het haar hande gebewe.

“Op ’n tyd wou haar lyf nie meer beweeg, maar sy wou nog oral gaan,” het Du Plooy gesê.


LEES OOK: Hospital personnel in Trichardt also donate blood


Volgens die susters van Kosmos Aftreeoord het Natie nooit gekla nie en sy was dankbaar oor alles. Natie was boonop ook betrokke by die Solidariteit Helpende Hand se ‘mind moves’-groep wat elke Donderdag deur Chantelle Adendorff aangebied word.

Adendorff beskryf haar as ’n regte ‘go-getter’ met ’n hart van goud.

“Sy wou graag altyd aan alles deelneem en het nie opgehou tot sy dit wat sy aangepak het reggekry het,” het Adendorff bygevoeg.

Suster Thea Kukard onthou hoe sy altyd haar broodkorsies na ete eenkant gehou het om die voëltjies vanuit haar kamervenster te voer.

Sy het ’n groot liefde vir rugby gehad en het graag by haar seuns gaan kuier om die nuutste wedstryde te kyk.

“Tannie Natie het nooit vir baie gevra nie en het altyd ’n goeie woordjie vir almal gehad,” het Kukard gesê.

Die kunsklas van die oord voel beslis ’n klein bietjie leër sonder haar pragtige kleurskemas en sagte geaartheid. Sy sal vir ewig ’n spesiale plekkie in almal wat haar ontmoet het se harte hê.



LEES OOK: Die Brug-deelnemer stel resepteboek bekend op Secunda

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Zell-Mari de Jager

Zell-Mari de Jager is a young and upcoming journalist. She has been working as the sole journalist for the Standerton Advertiser since May 2024. She covers a large variety of stories within her community and is an excellent photographer.

Related Articles

Back to top button