Bethal polisie en burgerlikes trek veediewe vas
Bethal AfriForum en GPF neem hande met polisie en vind 11 gesteelde skape terug.
Lede van AfriForum se Bethal-tak, die polisie se veediefstaleenheid en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het saamgewerk en vier veediewe in hegtenis geneem.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, is 11 gesteelde skape op 13 Februarie teruggevind.
Dié deurbraak volg nadat die polisie AfriForum om hulp genader het om een van die verdagtes op te spoor.
Die verdagte is die middag langs die R38, die hoofroete tussen Bethal en Standerton, langs die pad gevind waar sy voertuig onklaar geraak het.
Hy is aan die polisie oorhandig en in hegtenis geneem.
Later dié aand om 19:00, het AfriForum weer ’n oproep van die polisie ontvang om te help met ’n opvolg-operasie deur hul nagsig-tegnologie te gebruik.

Volgens inligting wat die polisie ontvang het, wou nog verdagtes, wat vermoedelik deel is van die veediefstalbende, skape wat hulle vroeër die week gesteel het, verkoop.
Met die vlinke hulp van die polisie, AfriForum en Bethal GPF se protospan, is dié verdagtes omstreeks 21:00 opgemerk waar hulle die skape van ’n bakkie afgelaai en in ’n sinkhut versteek het.
Die betrokke spanne wat die polisie gehelp het, het die gebied sonder enige beligting omsingel en inbeweeg. Twee verdagtes is in hegtenis geneem en daar is beslag gelê op die voertuig wat hulle gebruik het.
’n Vierde verdagte is ook in hegtenis geneem omdat die vee op sy eiendom versteek is.
“Goeie inligting en samewerking het tot hierdie sukses gelei. Ons is dankbaar vir elke lid wat sy tyd opgeoffer het om die operasie ’n reuse-sukses te maak,” het Bekker gesê.




