Crime

Inwoners trotseer nog steeds inbrake by ouetehuis op Bethal

Inwoners wil hê bestuur moet sekuriteit opskerp.

Inwoners van Residentia Palm-Oord Ouetehuis op Bethal gaan steeds gebuk onder inbrake en diefstal. Die Ridge Times het in Mei berig dat twee bejaardes in hul woning in Palm-Oord beroof is.

Hulle was die aand van 13 Mei tuis toe booswigte omstreeks 20:00 vermoedelik deur die motorhuis toegang tot hul woning verkry en hulle beroof het.

Die man is in ’n kamer vasgebind, terwyl die vrou die booswigte deur die huis moes neem sodat hulle kon steel wat hulle wou.

Gerdus Human, Residentia Palm-Oord se hoof finansiële beampte, het destyds gesê die veiligheid en welstand van inwoners bly vir Residentia ’n prioriteit.

Hy het bevestig dat misdadigers, ten spyte van bestaande sekuriteitsmaatreëls, onregmatig toegang tot die perseel verkry het.


LEES OOK: Secunda-vrou veg steeds dapper nadat haar hart gaan staan


Hy het ook gesê sekuriteits- en voorsorgmaatreëls word deurlopend geëvalueer en dat die saak by die polisie aangemeld is. Op 27 Junie, tussen 11:00 en 12:00, was daar egter weer ’n inbraak.

Die inwoners was nie tuis nie, maar daar is toegang tot hul woning verkry en juwele, selfone en ’n skootrekenaar is gesteel.

Van die inwoners is getraumatiseer en sommige is glo op soek na ander verblyf. ’n Ander inwoner se wasgoed is ook al van die wasgoeddraad gesteel.

Die Ridge Times het die bestuur van Palm-Oord weer om kommentaar genader en spesifiek gevra watter veiligheidsmaatreëls sedert die voorval in Mei ingestel is. Human het gesê alle aspekte van enige voorval word ondersoek en bestuur.

“Ons is op hoogte van sake en gebeure en dit word hanteer. Die uitreik van inligting oor sekuriteit en opgraderings sal juis teenproduktief wees vir die sekuriteit, die veiligheid van ons inwoners en die bestaande ondersoek.”


LEES OOK: Residents accuse Lekwa Municipality of betrayal over lack of basic services


Hy het inwoners aangemoedig om enige bekommernisse direk met die bestuur te bespreek.

Inwoners en sommige van hul familielede het egter hul misnoeë oor die plaaslike bestuur en Residentia se hoofbestuur uitgespreek en gesê hulle het reeds verskeie klagtes ingedien.

Hulle voel die nodige aandag word nie aan hul klagtes geskenk nie en dat daar onvoldoende met hulle gekommunikeer word.

Die voorsitter van die Bethal Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Jaap Pretorius, stem saam dat Palm-Oord se sekuriteitsmaatreëls opgeskerp moet word.

Volgens Pretorius werk kameras in strate en op persele baie goed. Hy het na ander dorpe verwys waar kameras geïnstalleer is, wat daartoe gelei het dat daar aansienlik minder misdaadvoorvalle voorkom.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button