Secunda-vrou veg steeds dapper nadat haar hart gaan staan
Charné Grabie gaan nou self dialise toepas.
Charné Grabie (40) se hart het gaan staan terwyl sy dialise gekry het. Grabie sukkel al sedert haar geboorte met haar gesondheid en die dokters het destyds gesê sy sal nie eers 10 jaar oud word nie.
Sy het hulle egter verkeerd bewys en vir jare het dit goed gegaan met Grabie se niere, maar in Julie 2025 moes sy dialise begin kry.
Sy het by die huis dialise gekry sodat sy meer tyd saam met haar gesin, haar man, Steven Grabie, haar 22-jarige dogter en die egpaar se seuntjie, JJ (7) kon bestee.
Die tuis-dialise het goed gewerk tot nou toe, maar Grabie oorweeg nou ander opsies vir dialise nadat haar hart op 15 April tydens dialise gaan staan het.
“Ek het ’n vreemde geluid gehoor terwyl ek dialise gekry het en gewonder wat gaan nou aan,” het Grabie vertel.
“Toe ek weer bykom, het ek op die grond gelê en die susters wat die dialise by my huis kom doen en my buurvrou was op die foon met die ambulansdienste.
ALSO READ: Disabled eMbalenhle resident appeals for accessible RDP house
“Een van hulle het vir my gesê ek het geen pols gehad nie. Hoewel ek en my gesin het baie groot geskrik het, het ek bonatuurlike kalmte en rustigheid ervaar toe ek by gekom het.”
Voordat Grabie bygekom het, het die susters ses keer kardiopulmonêre resussitasie (KPR) op haar gedoen.
Sy het daarna ook een keer baie sleg gevoel terwyl sy dialise gekry het. Die opsie wat Grabie nou oorweeg, behels dat sy self die dialise gaan toedien, vir nege ure in die nag terwyl sy slaap.
Die skok op haar liggaam, gaan egter minder traumaties wees as die dialise wat sy elke tweede dag gekry het en dan vir vier ure moes stilsit terwy sy aan die masjien gekoppel was.
Hoewel sy nie vir so lank aanmekaar hoef stil te sit nie, is die risiko vir infeksie baie groter. Grabie sukkel ook met haar hart en was vanjaar reeds by die kardioloog toe die gaatjie op haar hart waarmee sy gebore is, groter geword het.
Teen Januarie vanjaar was Grabie reeds vyf keer in die hospitaal vir onder andere haar hart en die nierversaking.
ALSO READ: Residents accuse Lekwa Municipality of betrayal over lack of basic services
Haar hart het in Junie, terwyl sy op die teatertafel was vir ’n kunsmatige aar wat uitgehaal is, weer gaan staan.
“Ons gesin het elke spesiale geleentheid sover dié jaar, in die hospitaal bestee. My en Steven se huweliksherdenking, sy verjaarsdag, sy gradeplegtigheid en my seuntjie se verjaarsdag op 1 Maart.”
Grabie en haar man het verlede week opleiding gekry om die tuis-dialise te doen en intussentyd het sy ook al die dokumentasie en aansoeke by die mediese fonds in gegee om op die waglys te kom om ’n nieroorplanting te kry.
“Daar is baie kriteria waaraan ’n mens moet voldoen voordat jy kan kwalifiseer vir ’n nieroorplanting.”
Van die kriteira sluit in dat ’n mens se nierfunksie moet onder 10% wees, Grabie s’n is tans op 6%. Grabie het ook met angs en depressie gesukkel na haar pa se dood in 2024 en nie dadelik hulp vir dit gekry nie.
“Ek het dit stigma geglo dat Christene nie depressief mag wees nie, maar ek het besef, dit is ok as Christene depressie kry en vir hulp vra.”
Ten spyte van al haar gesondheidsuitdagings, is Grabie by ’n plaaslike laerskool se projek betrokke waar die mamma’s daagliks beurte maak om vir minderbevoorregte kinders broodjies of ander kos te maak en skool toe te stuur.
Sy het verlede week op Macaroni en kaas besluit omdat sy meen dit meer vullend vir die kinders sal wees as broodjies.
As Grabie nie te sleg voel nie, hekel sy graag. Sy het haarself leer hekel en het al verskeie figuurtjies van verskillende diertjies gehekel.
’n Vriendin het vir Grabie ’n Back-A-Buddy-rekening oopgemaak om geld in te samel om al hulle brandstofkostes elke keer na Pretoria vir dokters-ondersoeke en prosedures en al die kostes wat die mediese fonds nie dek nie, te dek.
As jy Grabie wil ondersteun, besoek haar Back-A-Buddy-blad by https://www.backabuddy.co.za/campaign/charne-grabie-ckd-warrior.



