Nog ‘n jongman raakgery: slagoffer van Rayton is moontlik geteiken
’n Vriend is etlike ure later ook op Cullinan raakgery.
Elisma Bothma, Marc Lewis (23) se voog, vermoed vuilspel ná die jongman omstreeks 02:00 op Nuwejaarsdag op Rayton omgery is.
Dié voorval het voor die hoofingang van Inni Lang-gras, ’n kuierplek op die dorp, gebeur.
“Ek glo Marc was geteiken en ek weet ook deur wie. Ek glo ook dat die bestuurder van die bakkie beskerm word deur ’n bekende persoon in die omgewing. Die waarheid gaan wel een of ander tyd uitkom,” het Bothma gesê.
Die aand van die voorval het Marc, beter bekend onder sy sy vriende as Marcii, sy beste vriend se 21ste verjaarsdagpartytjie by die nuwe potspelklub op die R515-pad bygewoon.
Hy en vriende was vroeër die aand eers by Route 515 en Inni Lang-gras waar hulle ’n paar drankies geniet het.
Marc en Nico Villavicencio (25), wat self later die oggend in ’n tref-en-trapongeluk op Cullinan betrokke was (Streeknuus, 13 Januarie 2023), het daana op Nico se motorfiets teruggery na die potspelklub, maar hulle later die aand weer saamry-geleentheid terug na Inni Lang-gras gekry.
Volgens Bothma, het Marc by Inni Lang-grass glo met ’n meisie begin gesels wie se kêrel na bewering dit nie waardeer het nie.

“Kort voor lank is hy deur ’n bakkie met skerp ligte raakgery en gelos vir dood,” het sy vertel.
Marc kan self nie mooi sin maak van wat gebeur het nadat hy Inni Lang-gras verlaat het nie.
“Daar is net ’n ‘blank’,” het hy verduidelik.
Hy kan wel onthou dat hy weggestap het. Toe hy sy bewussyn herwin, het hy hom langs die pad in ’n plas bloed bevind.
Ruan Havenga (20) en Roxanne Wright (26) het op die erg-beseerde Marc afgekom. Halbo Venter, ’n lid van die plaaslike buurtwag, het die ambulans ontbied.
Marc is na Mamelodi Hospitaal geneem.
“Die paramedici het die hele tyd met my gepraat om my wakker te hou,” het Marc vertel.
Volgens Marc het hy verskeie beserings opgedoen.
“
My regteroor is byna afgeruk en moes weer vasgeheg word.
“My regteroogbank is sleg beskadig en moes steke kry. My regterlong het platgeval.
“Daar is ook ander inwendige beserings en gebreekte ribbes. Ek het steke op my kop en my niere is nog opgeswel. Ek het ook nog baie bloedklonte wat verdun moet word.

“My regterbeen is gebreek. Ek sukkel om te loop. My sleutelbeen is ook morsaf,” het hy gesê.
Bothma het die volgende dag die voertuig van die persoon wie sy van die tref-en-trap verdink, gesien.
“Ek het van nader gaan kyk en bloed op die voertuig se wiel gekry,” het Bothma beweer.
Volgens Bothma het sy dié inligting aan ’n bekende persoon op die dorp wat na bewering ook op die ongelukstoneel was, oorgedra.
“Hy sou ’n saak by die polisie aanhangig gemaak het, maar ek het intussen uitgevind die saak was nie aangemeld nie.
“Die voertuig was skoongemaak toe ek dit daarna weer gesien het,” het Bothma gesê.
Bothma en Marc weet nie of foto’s van die ongelukstoneel geneem is nie. Dit was reeds skoongemaak toe Bothma die volgende dag terug gegaan het.
Ná Marc uit die hospitaal ontslaan is, het hy die saak aangemeld, maar hy wag steeds op terugvoering.
Bothma vra dat mense met inligting oor die voorval, haar per WhatsApp-boodskap moet kontak op 074 849 6025.
Die woorvoerder van die polisie, sersant Connie Moganedi, het gesê die voorval is wel as ‘n aangemeld, maar geen saak is geopen nie.



