Bruce Fordyce kuier by die Red Star parkrun
“Daar is geen beter en gesonder manier om nuwe mense te ontmoet, sosiaal te verkeer en te oefen nie.”
Die Red Star parkrun op Delmas was op 14 Januarie die gasheer vir die voormalige Comrades-wenner, Bruce Fordyce.
Dié ultra-marathonwenner het om 08:00 saam met die gereelde deelnemers by die Red Star Raceway buite Delmas byeengekom vir die weeklikse oefening.
Fordyce is veral bekend daarvoor dat hy die Comrades Marathon nege keer gewen het, waarvan agt agtereenvolgend was.
Volgens Jacky Grassman, direkteur aan die stuur van die Red Star parkrun, was dit ’n voorreg om Fordyce te verwelkom.
Grassman het ook alle inwoners van Delmas en omgewing uitgenooi om elke Saterdag by hulle aan te sluit.
Deelname is gratis en almal is welkom.
LEES OOK: Bronkhorstspruit Police feel strong about school safety
Dit is groot pret vir oud en jonk en gesinne kan die vroegoggend briesie van Delmas kom inasem op die baan van die Red Star Raceway.
“Daar is geen beter en gesonder manier om nuwe mense te ontmoet, sosiaal te verkeer en te oefen nie. Ek glo dat ook nuwe intrekkers hier hul voete kan vind deur die gemeenskap van Delmas op ’n sosiale manier en in ’n gesonde omgewing te leer ken.
“As ’n parkrunner het deelnemers ook die kans om die spesifieke dag se gebeure by die Redstar Raceway gratis te geniet. Die oggend se kuier kan ook met ’n lekker ontbyt afgesluit word.”
Volgens Grassman sal die dag se roete op hul Facebook-blad aangekondig word.
“Dit hang af van watter gebeurlikhede daar op die spesifieke Saterdag by Redstar aangebied word. Soms doen ons die baan en ander kere weer ’n alternatiewe roete.”
Vir meer inligting besoek die Red Star Parkrun se Facebook-blad.
LEES OOK: Passievolle tuinier op Eloff loop onder diewe deur






