Bronkies Ringbalklub is weer op dreef
Klub beplan ’n vlugbal dag op 18 Februarie om geld vir die herstel van hul bane in te samel.
Laasjaar was ’n suskesvolle seisoen vir Bronkies Ringbal, waar daar ligawenners, provinsiale spelers en ook spelers vir die Suid-Afrikaanse span opgelewer is.
Bronkies Ringbal ding mee in die Mpumalanga-distrik teen spanne van Witbank, Middelburg, Delmas en Ermelo.
“Ons hoop om in 2023 verder te bou op 2022 se sukses,” het Ivy van Rooyen, die klub voorsitter, gesê.
Bronkies Ringbal hou ’n vlugbaldag (volleyball) op 18 Februarie om geld in te samel sodat hulle die bane en ligte op Bronkhorstspruit kan regmaak.
“Ons wil ook graag die ringbalklub aan die dorp voorstel en nooi alle sakelui en sportklubs om dié dag ’n span van ses in te skryf.”
Dit beloof om ’n dag vol pret te wees.
Belangstellendes kan Bronkies Ringbal se Facebookblad vir meer inligting oor die vlugbaldag dophou.
Ringbaloefening is elke Dinsdag en Donderdag van 18:30 tot 20:00 vir seniors en Woensdae van 18:00 tot 19:00 vir juniors.
Ligawedstryde begin op 18 Maart.
Vir meer inligting skakel Ivy van Rooyen by 082 417 3717 of Suné Visser by 082 612 3391.







