Elizabeth Kendall deel haar liefde vir kuns
Bronkhorstspruit-kunstenaar se lewe is vol skeppende dinge.
Kunstenaars maak van die lewe op aarde ’n beter en ’n mooier plek vir ander en hulself.
Só meen Bronkhorstspruit-kunsternaar, Elizabeth Kendall, wat vanjaar op Valentynsdag, ’n dwiekwart eeu oud (75 jaar) word.
Kendall het grootgeword op ’n plaas buite Bronkhorstspruit en het later na die dorp verhuis.
Nou, in haar goue jare, woon sy in ’n aftree-oord op die dorp waar sy haar liefde vir kuns uitleef.
“Dit is een van my passies. Ek móét skilder. Dis baie terapeuties, bevrydend en kalmerend-lekker. As ek ’n tyd lank nie geskilder het nie, begin my vingers jeuk.”
Haar kennismaking met kuns het begin net ná matriek tydens haar onderwysopleiding vanaf 1968 op Heidelberg Onderwys Kollege en Pretoria Normaal Kollege onderskeidelik. By die NPK het dit deel uitgemaak het van haar kursus.
Sy het later voortgegaan om haar BA en B.Ed. grade deur Unisa te verwerf en was 36 jaar in die onderwys.
Dit was tydens haar laerskool onderrigjare waar sy besef het hoe belangrik kuns as medium in onderwys is.
“Ek het gevind dat die jong kinders baie beter verstaan as ek ’n les in prentjies op die bord teken en nie net in woorde sou verduidelik nie.”
Dit was wel eers ná haar aftrede in 2009 dat sy meer aandag aan haar kuns kon gee deur uitstallings te hou en kunswerke te verkoop op sosiale media en aan die internationale en plaaslike mark.
“Ná my aftrede het ek op n stadium kunsklasse by Riana Dippenaar gekry waar ons verskeie interessante tegnieke geleer het. Behalwe vir die feit dat ons kuns-kennis uitgebrei het, was dié klasse ook besonder genotvol.
“Die afgelope 14 jaar het kuns my heerlik besig gehou. Ek was ’n paar jaar gelede bevoorreg om in Brooklyn Teater ’n uitstalling te kon hou en het ook al skilderye aan mense in Engeland, Kanada en Australië verkoop. Alle eer aan my Skepper vir elke seëning uit Sy hand.”
Kendall hou daarvan om te eksperimenteer en gebruik gereeld verskillende tegnieke.
“Ek kan regtig nie sê waarvan ek die meeste hou nie. Alles is lekker!”
Haar gusnstelling mediums om te gebruik wissel tussen waterverf, akriliese verf, olieverf, pen-en-ink en potlood.
Temas wat haar inspireer, is die natuur, veral landskappe en dan ook haar eie emosies.
“Ek geniet dit tans om seetonele te skilder met ’n paletmes. Daar is hope vryheid daarin. Die eindresultaat is die gevolg van verbeelding en kreatiwiteit. Om bome te skilder is ook telkens ’n heerlike uitdaging.”
Wanneer Kendall haar nie besig hou met kuns nie, doen sy tuinwerk, skryf gedigte of kort rubrieke en doen ook graag voorlesings.
“Ek glo nie ’n mens kan stories voorlees by Ons Herberg een maal per week as werk beskou nie, maar dit is uiters bevredigend,” het sy gesê.
“Ek is ook ’n lid en skakelbeampte van die VLU Van Riebeeck-tak en geniet die skryfwerk en foto’s neem wat daarmee saamgaan. Ek speel ook drie maal per week rolbal en is mediaskakel vir die klub. Ek geniet my kerk toe gaan, Bybelstudie en selgroep-byeenkomste. Dis lewensnoodsaaklike sielskos.
“As my skilderye rustigheid by mense bring, is ek bly. As my skilderye mense vrolik laat voel, is ek nog blyer.
“Vir elkeen op aarde is daar n skildery wat met jou ‘praat’ – koop dit en geniet dit.
“Moenie bang wees nie. Gebruik jou talente. Moenie oorhaastig wees nie. Glo in jouself. Lééf met oorgawe,” het Kendall afgesluit.






