Skokgolwe op Standerton na dood van De la Rey Tonkin
Die begrafnisdiens vind op 29 Maart om 11:00 op die plaas Kromdraai plaas waar hy ook ter ruste gelê sal word.
Standerton se gemeenskap is in rou gedompel na die skielike afsterwe van De la Rey Tonkin. Hy is op 10 Maart op die trappies by die sy huis dood aangetref.
Die kommunikasiebeampte van die Standerton Polisie, kapt. Gibi Mtsweni, het die afgelope week geen bykomende inligting kon verskaf nie, die saak word verder ondersoek, maar geen gemene spel word vermoed nie.
Dié seun van wyle Jan en Margaret Tonkin het as sakeman, boer en barmhartige Samaritaan diep spore in die gemeenskap getrap.
Die Standerton-skou is een van die bewyse van sy meelewendheid.
Tannie Margaret het die tyding in die hospitaal op Plettenbergbaai ontvang nadat sy ’n operasie moes ondergaan.
Sy was reeds op Woensdag 15 Maart terug op die plaas.
De la Rey was met Léana, voormalige staatsaanklaer, getroud.
Die Tonkins (snr.) het op die plaas, Kromdraai sedert Desember 1969 gewoon en soos berig in ’n Communique van die VLU-Kaalspruit, geen steen onaangeraak gelaat om die plaaswerkers se behuisings- en opvoedingsbehoeftes aan te spreek nie.
’n Huisaanbouingsprojek en bou van ’n gemeenskapsaal en kerk tot uiteindelike volwaardige na-skoolsentrum het gevolg.
Die kinders is in lees, skryf, wiskunde en tale onderrig.
De la Rey se oortuiging dat die linkerhand nie moet weet wat die regterhand doen nie, getuig van sy geloofsvertroue.
Die Standerton Advertiser het by een geleentheid eerstehands daarmee kennisgemaak.
Die begrafnisdiens vind op 29 Maart om 11:00 op die plaas Kromdraai plaas waar hy ook ter ruste gelê sal word.
De la Rey Tonkin word oorleef deur sy vrou, Léana, sy dogter, Daniellé, sy moeder, Margaret en sy susters, Francie en Anzabeth.




