Amanda le Roux van Standerton maak werk van die lot van weeskinders
Amanda se besinning oor die lot van die weeskinders het vergestalte gekry in die aanbou van ’n sentrum wat uiteindelik selfonderhoudend moet wees.
Vir Amanda le Roux van Standerton het dit tot ’n geloofsdaad op die dorpie, Mbalami in Malawi oorgegaan.
“Ek is totaal en al aan God se genade oorgelewer,” het sy gesê.
Sy reis gereeld in die buiteland en op besoek aan Malawi, het sy die lewensomstandighede van die mense gesien en daar is besluit om te help.
Dit is nege jaar gelede voorafgegaan deur gebedsreise en evangelisasie-uitreike.
Ariella Ministries, met drie mense op die direksie en 16 in diens van die Restoring Hope Foundation, wat as ’n nie-winsgewende organisasie ’n jaar gelede geregistreer is.
Mbalami is noord van Salima in sentraal-Malawi geleë en Amanda het by eerste kennismaking met die dorpie, tydens haar bediening, diep onder die indruk van die intens, verarmde gemeenskap se geestelike nood gekom.
“Armoede het ’n nuwe definisie gekry. As ’n mens in die huisies instap, is daar niks, letterlik niks.”
Amanda se besinning oor die lot van die weeskinders het vergestalte gekry in die aanbou van ’n sentrum wat uiteindelik selfonderhoudend moet wees.
Die ‘chiefs’ het haar aanvanklik ’n stuk grond gegee om die sentrum te bou en haar man, Barend, vergesel haar gereeld om toesig oor die tegniese aspekte van die sentrum te hou.
Sy bedien ook die gemeenskap van Chichombe met 106 wesies waarvan die hoofoorsake te wyte is aan HIV, malaria en ondervoeding.
Die eerste sooi is op 3 Augustus verlede jaar op Mbalami gespit, die eerste fase van die bouprojek is die tweede week van November voltooi en op 27 November amptelik ingewy.
As oogmerk is basiese Christelike onderrig en om die kinders te leer Engels praat.
Die voorskoolonderwyser en hoof is Engels-magtig. Die vier fasiliteerders waarvan drie vroue, kan Engels praat en die manlike lid hou toesig oor dissipline.
Altesaam vier kokke by die sentrum verstaan nie ’n snars Engels nie en tolke moes die boodskap van gebalanseerde maaltye oordra.
Die naaste kliniek is sowat 7,5km ver en ’n fiets is ’n luukse.
“Daar is 1 500 ernstig verarmde kinders en sowat 480 weeskinders van alle ouderdomme in die gemeenskap en die skool hanteer tans 200 kinders tussen die ouderdom drie tot vyf jaar ,” het Amanda gesê.
Malawi het geen sosiale stelsel van maandelikse staatsubsidiëring nie en die enkele weeshuise word hoofsaaklik deur NPOs bestuur en finansier.
Die Le Rouxs neem hul intrek tydens die agtweeklikse besoeke in die sentrum en bly tussen die mense.
Hul gebruik die kombuis van die sentrum want teen R2 200 per nag, kan ’n hotelverblyf ’n aardige sommetjie beloop.
“Die meeste skenkings wat ons kry, is anoniem.”
Sy het ’n vrouedag vir al die pleegmoeders, wat verarmde moeders insluit, ook gereël.
“Ek kan nie my Godgegewe opdrag verydel nie,” het sy ook gesê.
Amanda is deeglik bewus van die politiek van die land en werk nou saam met die ‘chiefs’, parlementslede en ministers om die projek te bestuur.
Malawiërs wag haar gereeld op die Lilongwe-lughawe in met ’n bordjie waarop staan, ‘Mama Afrika’.
Die paspoortbeheer en administrasie word vinnig hanteer alvorens die pad aangedurf word.
Bybels in Chichewa, die amptelike taal, word ook bestel om in vier dorpies se huisies geplaas te word. Die volgende vertrekdatum na Malawi is 12 April.
Hearts4Standerton, ’n projek van die dorp, waarvan sy ’n stigterslid is en saam met Celia Goosen bestuur, gee al vir 25 jaar kospakkies aan plaaslike leerders.
“In my hele lewe was ek nie so gelukkig soos nóú nie,” het sy van meelewing geborrel.





