Emsie Saayman van Standerton se kunssinigheid en geloof gaan hand aan hand
Dit was ’n beroerte in 2021 wat haar lamgelê het wat aanleiding tot dié stokperdjie gegee het en sy gee kaartjies van haar handewerk aan vriende en familie.
Na 25 jaar het Emsie Saayman haar werkswinkelkennis afgestof en begin met quilling.
Dié kunsvorm het sy behoorlik onder die knie. Haar eetkamertafel met die papier, pen, stensils, kamme, kurk, gom en vormpies getuig daaarvan om aan belangstellendes die tegnieke te verduidelik.
Emsie koop haar benodighede aan deur die internet van ’n kunswinkel in Pretoria wat dit dan per koerier aflewer.
“Ek sal opsetlik in daardie winkel verdwaal,” het sy gesê.
“Nou hoef ek nie dorp toe te jaag nie, ek het alles wat ek nodig het.”
Dit was ’n beroerte in 2021 wat haar lamgelê het wat aanleiding tot dié stokperdjie gegee het. Sy gee kaartjies van haar handewerk aan vriende en familie.
“Quilling vat konsentrasie en is uit en uit terapeuties,” het sy bygevoeg.
“Ek geniet dit ontsettend baie.
“Na ’n beroerte voel dit asof jy jou plek in die samelewing verloor het.”

Dié diepgelowige vrou se dogter, Monique van Groblersdal, het selfs vir haar ma ’n battery-aangedrewe pen gegee, maar Emsie verkies die handwerk.
Blommetjies vir ’n kaartjie kan selfs tot 10 ure neem alvorens sy tevrede is.
Kerstyd sit sy nie hande in die hare nie, want haar kaartjies is die geskenk. ’n Spesiale verjaardagwens vir ’n sewentigjarige is ook nie bo haar vuurmaakplek nie.
Sy eksperimenteer met verskillende kleure afhangende van die tema.

Die VLU Vaalrivier-tak en ook VLU-Kaalspruit het van haar te hore gekom en haar gevra om werkswinkels aan te bied.
Emsie is gevra om op 31 Mei by ’n kuier-en-kletsoggend op Devon meer oor dié kunsvorm te vertel.
Daar sal aan elkeen die geleentheid gegee word om self te probeer en die pakkies is reeds opgemaak, kompleet met alles wat hulle sal benodig.
Vroegoggend is sy wakker en in die Saayman-huis word die gasstoof reeds om 16:00 aangesteek want nuus moet sy kyk.
“’n Mens moet ingelig wees oor wat in die wêreld aangaan.”
Haar man Alex, werk by Tutuka Kragstasie en hul seun Ivan, woon op Tzaneen. Die Saaymans het een kleindogter, Kaylin.
Merlot, die worsie, Scotty, die terriër en Bullet, die labrador deel die huis met Duifie, wat Emsie gered het toe hy uit ’n boom geval het en Optel, die voëltjie wat ook sy weg na hulle huis gevind het.
Tuinmaak is vir haar belangrik en die basiliekruid groei welig in die groentetuin en sy het gou instruksies aan die tuinier gegee dat die aartappels uitgehaal moet word.
Daar is selfs ’n geel kosmossie, al die pad van KZN, in die voortuin.

Emsie is in besit van sewe Bybels en bestudeer die Skrif in haar soeke na die waarheid.
“Die Here het vir my deure oopgemaak na my beroerte,” het sy getuig.
“Ek sal aangaan solank ek ’n seën kan wees vir iemand.
“Ek is vervuld en dankbaar.”




