Vrou in ongeluk op R42 beseer
Sy het van pyn in haar bene en linkerarm gekla en is per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas vervoer.
’n Vrou is na die hospitaal geneem nadat die rooi BMW waarin sy as passasier gery het Sondagaand het eers teen ’n bakkie en toe teen ’n brug digby Delmas gebots.
Die ongeluk het omstreeks 18:45 op die R42 / N12-oorbrug, in die rigting van Delmas plaasgevind. Die BMW het na bewering reg van agter in ’n wit Isuzu-bakkie vasgery.
Met Streeknuus se aankoms op die toneel het die bestuurder van die Isuzu beweer dat hy teen sowat 80 km/h agter ’n swaarvoertuig gery het toe die rooi BMW, glo teen vermoedelik ’n hoë spoed, nader gejaag het en reg van agter teen sy bakkie gebots het.

Die bestuurder is dankbaar dat die jong kinders in die bakkie nie beseer is nie.
Die BMW se bestuurder was nie op die toneel nie, maar volgens ooggetuies en omstanders, het die BMW kort na die botsing skerp uitgeswenk en neus eerste in die reëling van van die brug beland.
Die impak van die botsing het die BMW se lugsak aan die passasierskant geaktiveer.

Die Delmas Polisie was op die toneel en lede van AfriForum se Delmas Valke Buurtwag het mediese bystand verleen in afwagting op ’n ambulans en het ook die verkeer op die besige brug op die R42 beheer om ’n verdere ongeluk te voorkom.
Die jong vrou wat die passasier in die BMW was, het van pyn in haar bene en linkerarm gekla en is per ambulans na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas vervoer.
‘n Insleepdiens het sowat twee ure ná die ongeluk plaasgevind het, die BMW uit die pad van verkeer verwyder en kon die brug weer veilig vir verkeer oopgestel word.




