Vermeende kardiewe deur buurtwag op Delmas vasgetrek
Die wettige eienaar van die motor was deur die polisie gekontak en sy kon bevestig dat die voertuig op die aand van 14 Julie in Springs gesteel is.

Inligting omtrent ‘n voertuig wat as gesteel aangemeld was, het die reaksiespan van Delmas se AfriForum buurtwag op 18 Julie bereik.
Met behulp van AfriForum se moderne nommerplaatherkenningskameras (number plate recognition), kon daar vasgestel word dat die voertuig, ‘n grys Chrysler SUV, Delmas om 15:06 binnegekom het en was daar rede om te glo dat dit steeds in Delmas was.
Hulle het bystand ontbied en die voertuig is binne etlike minute in Tweedelaan op die dorp opgemerk. Hulle het toe die Delmas Polisie gekontak en die buurtwaglede versoek om die drie verdagtes met die gesteelde voertuig na die stasie te vergesel.
Die verdagtes het op die toneel aangedui dat die motor aan hul gegee was vir gebruik deur ‘n ‘oom’, maar dit het gou geblyk dat die twee mans se stories nie geklop het nie.
LEES OOK: Drug buy and bust in Delmas yield success
Die wettige eienaar van die motor was intussen deur die polisie gekontak en sy het bevestig dat die voertuig op die aand van 14 Julie in Springs gesteel is.
Die drie verdagtes, Willem van der Merwe, Cornelius Pieter (Neels) Joubert en Julandie Pretorius is in hegtenis geneem vir die besit van ‘n gesteelde voertuig.
Die drie het op 19 Julie in die landroshof op Delmas verskyn. Pretorius is borgtog toegestaan en moet weer op 21 Augustus in die hof verskyn.
LEES OOK: Delmas buurtwag hou lugpatrollie met gevorderde hommeltuigtegnologie
Teen druktyd was Joubert en Van der Merwe steeds in aanhouding en het hulle gewag om op 27 Julie om borgtog aansoek te doen.
Die moontlikheid dat dié driemanskap ook moontlik by ander voorvalle betrokke was, word nog ondersoek.
“Ek moet vir ons buurtwaglede, asook vir Derek Bester van die Sundra Bulldogs buurtwag bedank vir hul vinnige optrede.
“Met die hulp van ons kamerastelsels en goeie samewerking tussen die onderskeie buurtwagte sowel as die polisie, kan ons van Delmas en omgewing ‘n veiliger blyplek vir sy inwoners maak,” het Carel Botha, voorsitter van AfriForum se Delmas Valke buurtwag gesê.



