Local news

Koos Fourie van Secunda stel eerste boek bekend

Oud-polisieman skryf eerste kinderboek en tweede boek oor reeksmoordenaars.

Koos Fourie het onlangs sy heel eerste boek, ’n kinderboek, Die Draak van Bergvoet, vrygestel. Fourie het nog altyd graag gedigte geskryf, maar dit is nie gepubliseer nie.

Hy was lus om ’n boek te skryf en te kyk hoe die hele proses werk vandat ’n mens dit klaargeskryf het tot om dit te publiseer en dan op die rakke te kry.

Die Draak van Bergvoet vertel die storie van ’n legende wat bewaar word deur ’n handjievol inwoners van die dorp, Bergvoet en twee tieners wat die vermoë het om tot dié dorp se redding te kom.

Waar Bergvoet altyd mooi groen en vol sonskyn was, hang daar nou ’n swaar swart wolk oor dié dorp, wat deur die draak versoorsaak word.

Fourie vertel in dié boek die spanningsvolle verhaal van hoe die twee tieners dit regkry om met dapperheid, nederigheid, deursettingsvermoeë en spanwerk die draak te oorwin.

Baie van die verhale in Die Draak van Bergvoet, is wat Fourie se pa destyds vir hom vertel het en lesse wat hy self geleer het.

“Ek wil dit bewaar vir my kinders en kleinkinders,” het Fourie gesê.

Hy wou dié boek eintlik net vir sy familie laat publiseer, maar sy vrou, Marietjie, en hul kinders het hom aangemoedig om dit aan die wye publiek ook bekend te stel.

Fourie het doelbewus hier en daar hoër woorde in Die Draak van Bergvoet gebruik om kinders se nuuskierigheid te prikkel sodat hulle ’n woordeboek moet optel om die betekenis op te soek.

Sy tweede boek, dié keer ’n meer ernstige boek, Jy het my so gemaak, is ook reeds klaar geskryf, maar dit sal eers oor ses maande beskikbaar wees. Dié boek gaan oor reeksmoordenaars en hoekom hulle moor.

Met jare se ondervinding as die bevelvoerder van die destydse Oostelike Hoëveld Moord- en Roofeenheid, het Fourie al baie kere in moordenaars se koppe probeer klim om hulle te kon vastrek. Een van dié gevalle was die destydse ‘Saloon Killer’ reeksmoordenaar.

“Jy kry twee soorte reeksmoordenaars, ’n georganiseerde een wat in baie besonderhede beplan en ’n baie spesifieke slagoffer soek,” het Fourie vertel.

“Dan kry jy ook die ongeorganiseerde reeksmoordenaar wat nie regtig beplan nie en meer op die ingewing van die oomblik ’n moord sal pleeg.”


ALSO READ: Evander Police investigate after remains are found in burnt house


Die hoofkarakters in dié boek is drie tieners wat op lyke afkom en dan saam met die speurder ondersoek instel om die raaisels van die moorde op te los.

Fourie het vir die karakters in die boek sy kinders se persoonlikhede gebruik en sy jongste dogter, Ina-Mari, het hom gehelp om die voorblad van die boek te ontwerp. Haar gesig pryk op die voorblad.

Fourie het gesê elke reeksmoordenaar gaan deur ’n depressiefase na die moorde want hy kan nie sy fantasie en die werklikheid bymekaar bring nie.

“Baie reeksmoordenaars het verwerping as kinders ondervind en dit is baie kere een van die redes hoekom hulle begin moor.”

In sy nuutste boek brei Fourie uit oor die verskillende fases wat reeksmoordenaars ondervind en hoe hul koppe werk.

Twee gelukkige lesers kan Fourie se kinderboek wen.
Om te wen, antwoord die volgende vraag: “Wat is die dorp se naam waar die verhaal, Die Draak van Bergvoet, afspeel?” en stuur jou antwoord per e-pos na janao@caxton.co.za

Die sluitingsdatum vir die kompetisie is 7 Desember. Om Fourie se boek te bestel, besoek sy webwerf, www.bjfourie.org of bestel dit op Takealot.



Follow Us: Ridge Times: Standerton: Streeknuus

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button