Delmas se vermeende broodboomdief beland agter tralies
Met behulp van veiligheidskameras van ’n nabygeleë prokureursfirma kon videomateriaal bekom word waarin daar gesien kon word hoedat ’n persoon die broodbome goedmoeds uit hul potte verwyder en daarmee wegstap.
Petrus Lafras Moolman (39) is op 2 Januarie deur die Demas Polisie in hegtenis geneem en het op 4 Januarie in die Delmas Landroshof op aanklagte van diefstal verskyn.
Streeknuus kon intussen bevestig dat Moolman se borg nie toegestaan is nie, maar wel uitgestel is vir verdere ondersoek.
Volgens kaptein Carla Hartley, mediawoordvoerder van Delmas SAPS, kon daar intussen bevestig word dat twee lasbriewe teen Moolman uitstaande is.
Sake teen Moolman sou onder andere insluit motordiefstal, die besit van dwelms en bestuur onder die invloed.
LEES OOK: Bronkhorstspruit verloor ’n bekende leraar
Moolman se inhegtenisneming volg nadat ’n werknemer van Amadwala Tracker op Delmas, Monya van Tonder, na die Desember vakansie op 2 Januarie na haar werk teruggekeer het.
Volgens van Tonder het sy dadelik opgemerk dat haar twee broodbome, ook bekend as Cycads, uit hul potte verwyder was.
Met behulp van veiligheidskameras van ’n nabygeleë prokureursfirma en wapenhandelaar kon videomateriaal bekom word waarin daar gesien word hoedat ’n persoon die broodbome goedmoeds uit hul potte verwyder en daarmee wegstap.
Van Tonder het hierna die eienaar van Amadwala Tracker, Carel Botha, gekontak en verder inligting bekom dat die verdagte gewoonlik in die omgewing van KFC rondhang.
LEES OOK: Zimeleni Disabled Association registers trust to assist a boy after electrocution in eMbalenhle
Botha het vir Moolman by KFC gekonfronteer waarna hy erken het dat hy van Tonder se broodbome gesteel het. Delmas polisie was gekontak en Moolman in hegtenis geneem.
Kort hierna het dit aan die lig gekom dat meer broodbome uit erwe in die omgewing verdwyn het en dat Moolman dit glo by die Willowbrooke Sentrum aan niksvermoedende lede van die publiek verkoop het.
Met die broodboom dief nuus op sosiale media het baie van die mense wat broodbome van Moolman aangekoop het dit intussen aan hul eienaars terugbesorg.
Van Tonder se broodbome is egter nie teruggevind nie en volgens haar is dit vir haar baie hartseer weens die sentimentele waarde wat dit vir haar inhou.
“Die broodbome is wel R8 000 werd, maar vir my gaan dit nie daaroor nie. Ek het die bome etlike jare gelede van ’n spesiale vriend as geskenk ontvang.
“Dit het ook ’n brand oorleef waartydens my ma se eiendom op Eloff byna heeltemal verwoes was en ek en my dogter al ons besittings verloor het. Dit het nou net weer begin regkom en nou dit,” het Van Tonder Streeknuus meegedeel.
Carel Botha, die voorsitter van AfriForum se Valke Buurtwag het intussen die flinke optrede van lede bedank.
“Die onmiddellike verkryging van beeldmateriaal vanaf ons lede het beslis tot die spoedige inhegtenisname van die vermeende broodboom dief gelei,” het Botha gesê.
Moolman sou weer op 9 Januarie in die Delmas Landdroshof verskyn. Streeknuus het navraag aan die die Delmas polisie gerig, maar teen druktyd kon geen terugvoer verkry word nie.






