CrimeLocal newsStreeknuus

Vrou wat glo drie keer oor man ry, bring Kersfees by die huis deur

Gauche moet ook op vasgestelde tye by die Sundra polisie aanmeld en sy moet die hof vooraf in kennis stel indien sy die Victor Khanye munisipale gebied sou wou verlaat.

Samantha Gauche (36) wat daarvan aangekla word dat sy met haar voertuig drie keer oor Leon Jansen van Rensburg gery het, is kort voor Kersfees op borgtog vrygelaat.

Borgtog van R10 000 is op 21 Desember in die Delmas Landdroshof toegestaan.

Gauche het op 13 Desember verlede jaar vir die vyfde keer vlugtig in die hof verskyn. Die formele aansoek om borg het op 18 Desember plaasgevind.

Die staat het die aansoek teengestaan en redes daarvoor aangevoer is dat Gauch met twee vorige adresse soos aan die hof verskaf, na bewering gelieg het en dat sy kort-kort van adres verander het.


Samantha Gauche tydens ’n vorige verskyning in die Delmas Landroshof.

Sy het glo ook gedurende Maart verlede jaar tyd in ’n rehabiltasiesentrum op Heidelberg deurgebring en was ook na bewering gevra om ’n bekende opheffingsoord op Eloff weens drankmisbruik te verlaat.

Gauche was, volgens die ondersoekbeampte, ook werkloos ten tye van haar inhegtenisname.

Daar was verder ook aangevoer dat Gauche se saak wye aandag in die media veroorsaak het en dat die gemeenskap van Sundra deur die moord op Janse van Rensburg in skok gedompel is.

Volgens die ondersoekbeampte sou Gauche se adres in Sundra dus probleme kon veroorsaak en die publiek sou geloof in die regstelsel verloor.


Wyle Leon Janse van Rensburg en sy dogter Shenique in gelukkiger tye.

Die staatsaanklaer, Gustav Schult, het verder aangevoer dat Gauche ’n vlugrisiko inhou, omdat sy nie lank by een adres vertoef nie.

Macci Coleman van Coleman Prokureurs wat intussen die verdediging vir Gauche oorgeneem het, het aangevoer dat dit juis in die belang van die gereg is om die beskuldigde op borg vry te laat.

Coleman het gesê Gauche is reeds vir baie jare ’n inwoner van Delmas en omgewing en dat daar dus geen rede sou wees hoekom Gauche nie op borg vrygelaat kan word nie en dat dit ’n bekende feit is dat dié soort verhore baie lank neem.

Nadat die staat en verdediging se getuies aangehoor was, was die saak vir uitspraak op 18 Desember vasgestel.


LEES OOK: Eloff-vrou verskyn weer in hof na sy glo drie keer oor man ry


Die landdros het aangevoer die adresse soos deur Gauche aan die hof verskaf, was nie vals adresse nie, maar wel bekende adresse waar sy voorheen gewoon het, maar dat die inwoners net nie vir Gauche wou inneem nie.

Die landdros het ook genoem dat geen persoon skuldig is voordat daar nie deur ’n hof so besluit is nie en dat die feit dat Gauche op borg vrygelaat sou word, nie sou beteken dat sy nie skuldig is nie.

Gauche moet ook op vasgestelde tye by die Sundra polisie aanmeld en sy moet die hof vooraf in kennis stel as sy die Victor Khanye munisipale gebied wil verlaat.

Gauche se twee minderjarige dogters is volgens die hof beide in pleegsorg van familielede. Gauche se inhegtenisname het op die op die dood van Leon Jansen van Rensburg op 30 September gevolg.


Samantha Gauche (36) wat daarvan aangekla word dat sy die dood van Leon Jansen van Rensburg veroorsaak het.

Volgens die polisie op Sundra het Gauche na bewering drie keer oor Jansen van Rensburg op ’n kleinhoewe in Modder Oos Boorde gery.

Sy het glo hierna in haar motor van die toneel gevlug, waarna sy beheer oor haar motor verloor en teen in ’n boomstomp vasgery het.

Sy het verder te voet gevlug, maar ’n tuinier wat alles gade geslaan het, het alarm gemaak en Gauche is in hegtenis geneem.

Jansen van Rensburg is deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. (Streeknuus, 13 Oktober). Gauche was ten tye van die voorval by die Jansen van Rensburg-egpaar woonagtig.

Janse van Rensburg se dogter Shenique en etlike ondersteuners was by die borgaansoekuitspraak teenwoordig.

Shenique het Streeknuus meegedeel dit is uiters onregverdig dat Gauche borg gekry het.

“Sy (Gauche) kan nou oor Kersfees vry rondloop en die nuwe jaar ingaan, terwyl my pa nie meer hier is nie. Ons het nog soveel gehad wat ons saam wou doen, ons het soveel planne gehad, maar nou is hy nie meer daar nie.”

Gauche se saak kom weer op 30 Januarie in die Delmas Landroshof voor.



LEES OOK: Vrou van Sundra wat oor man ry, bly vir eers nog agter tralies

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button