Vermeende dief van skoolgeld se borgaansoek op Delmas voortgesit
Larissa Vern (52) staan tereg op verskeie aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery.
Larissa Vern (52), ’n voormalige finansiële beampte van Laerskool Delmas, wat glo miljoene uit die rekening van dié skool gesteel het, se borgaansoek was op 12 en 13 Maart in die Delmas Landdroshof voorgesit.
Vern staan tereg op verskeie aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery. Haar regsverteenwoordiger het op 12 Maart mediese rekords van Vern se mediese toestand aan die hof voorgelê.
Volgens die verdediging is Vern sieklik. Sy ly onder andere aan hoë bloeddruk, ’n niersiekte en ’n vergrote hart en sy sukkel met asemhaling. Depressie is ook in die hof geopper.
’n Plaaslike dokter het vir die staat getuig. Die hof het op 13 Maart die staat en verdediging se argumente aangehoor.
Volgens die verdediging sou Vern ’n vaste adres in Delmas verskaf, ’n woning waarvan Vern en haar suster albei 50% besit na die afsterwe van hul vader.
Die staat staan Vern se borgaansoek aansoek tee en beskou haar as ’n vlugrisiko.
LEES OOK: Couple opens rehab centre for women in Secunda
Argumente het ingesluit die feit dat Vern, nadat haar beweerde diefstal aan die lig gekom het en haar diens by Laerskool Delmas beëindig is, verskeie kortstondige adresse in die Victor Khanye-gebied gehad het.
Volgens die staat het sy ook by van die adresse verhuis sonder om die verhuurders enigsins in kennis daarvan te stel.
Die staat het egter aangevoer dat Vern in 2023 die gesamentlike blyplek van haar en haar suster verlaat het nadat sy en haar suster na bewering nie oor die weg gekom het nie.
Vern se suster woon steeds by die gegewe adres op Delmas. Die staat het ook weer na ’n beskermingsbevel verwys wat teen die suster bekom was vir verbale, emosionele en finansiële mishandeling. Die beskermingsbevel was egter teruggetrek en nooit aan die suster uitgereik nie.
Die staat het verder aangevoer dat Vern haar voertuig, ’n Alfa Romeo Julietta, op die plaas waar sy in hegtenis geneem is, agter sinkplate en seile versteek het en dat dit dus daarop dui dat sy van die gereg wou skuil.
LEES OOK: Thembisile Mtshweni from Standerton contributes to well-being of community
Vern se regsverteenwoordiger het teengekap dat Suid-Afrika ’n gevaarlike land is waarin misdaad gedy en dat veiligheid dus Vern se rede was om haar voertuig agter sinkplate en seile te bêre.
Volgens die staatsaanklaer het dié plaas van die hoogste sekuriteit. Verskeie selfoon SIM-kaarte is ook in Vern se besit gevind.
Die verdediging het aangevoer dat die betrokke SIM-kaarte nie in Vern se besit gevind was nie, omdat sy glo in die bad was toe die polisie dit gekry het.
Die staat het ter verdediging aangevoer dat die SIM-kaarte in Vern se handsak gevind was. Vern kan volgens haar prokureur nie vlug nie, want sy is nie in besit van haar ID of enige reisdokument nie en haar bankrekening is ook gevries.
Die staat meen egter dat hoewel sy moontlik nie sou vlug nie, sy wel kan dros en nie vir haar verhoor opdaag nie.
Die landdros het uitspraak op Vern se borgaansoek voorbehou en Vern moet weer op 26 Maart in die hof verskyn.
Vern bly intussen in aanhouding in die Johannesburg Gevangenis vir vroue.



