Delmas VLU-tak versier inkopiesakke
“Na ons saamwees en tydelike vergeet van alles, kon elkeen vol inspirasie huiswaarts keer.”
Dit was weer die derde Dinsdag van Maart toe die VLU Delmas-tak op 19 Maart oudergewoonte in die saal van die Hervormde Kerk bymekaargekom het.
Met die lede se binnekoms is kompetisie artikels vir beoordeling ingehandig. Dit is beoordelaar, Elsie Bredenkamp, se taak om gekookte klapperys, churros wat met patats as bestanddeel gemaak word, gehekelde tekkies vir baba’s, mikrogolf sjokoladekoek en herwinningsartikels bestaande uit twee glasbottels en servet-decoupage, te beoordeel.
“Met ons voorsitter, Marié Terblanche steeds buite aksie na ’n rugoperasie, sowel as Jané Oosterhuis wat as visie-voorsitter vir haar sou instaan, ook in die hospitaal opgeneem, moes Belinda Duvenhage aan die diep kant inspring,” het die skakelbeampte, Magriet Swart gesê.
Die tak het ’n kuiergas, Elma Labuschagne verwelkom en drie nuwe lede, Lynette Garson, Mariné Pretorius en Madeleen Blane, het hul lidmaatskapskaarte voltooi.
Doktor Martin van Rensburg, predikant van die Hervormde Kerk, was deur Belinda as gasspreker voorgestel.
Van Rensburg het die vergadering oor opvoeding, wat dit behels, die doel daarvan, wie die rolspelers is, wat die uitdagings is, die ontwikkelingsfases en die verskillende aspekte van ontwikkeling toegespreek.
Daarna was Marie Jordaan aan die woord. Sy het gesels oor die VLU skrywer van die jaar, naamlik die romanskrywer, Lizelle von Wielligh.
“As reaksie op die Here se roepstem het sy die pen opgetel en liefdesverhale het haar roeping geword. Van haar titels is ’n Tyd om te lag, ’n Tyd om te dans, Soeter as nougat, Soeter as kondensmelk, Strykstok van die hart, Lisa se hartsgeheim en vele meer,” het Jordaan vertel.
Marcia Keen is die VLU kunstenaar van die jaar. Jordaan het vertel dat musiek al van Keen se kinderjare af ’n integrale deel van haar lewe is.
“Volgens haar ma was sy sedert driejarige ouderdom baie gemaklik voor gehore,” het Jordaan voortvertel.
“Keen se styl is ’n kombinasie van kaberet, ’n bietjie dink-musiek en jazz, alles lig en gemaklik op die oor. Marcia se debuut CD is in 2013 opgeneem, sy tree orals op, maar dit is haar gunsteling om tydens dames- en koörporatiewe funksies, waar sy kontak met haar gehoor het, op te tree.
Sedert 2015 is sy boonop jaarliks op die Mevrou Mpumalanga verhoog as seremoniemeester te vind. Marcia was ook vroeërjare ’n joernalis en omroeper,” het Jordaan die vroue ingelig.
“’n Vergadering is nie volledig sonder ’n aktiwiteit nie en met inkopiesakke, kleurvolle verf en kwaste, het die vroue die inkopiesakkies met lapverf versier,” het Swart vertel.
Duvenhage het die vroue in dié unieke tegniek touwys gemaak.
“So het die hoogtepunt vir die meeste van ons vroue se bymekaarkom elke derde Dinsdag van die maand ook weer tot ’n einde gekom. Na ons saamwees en tydelike vergeet van alles, kon elkeen vol inspirasie huiswaarts keer,” het Swart afgesluit.
Belangstellende vroue bo die ouderdom van 18 jaar word genooi om saam met die VLU-tak op Delmas te kuier.
Vir meer inligting skakel Marié Terblanche by 083 968 2203 of besoek die VLU Delmas-tak op Facebook.






