CrimeLocal newsStreeknuus

Moordverdagte se borgaansoek op Delmas weer uitgestel

Gebeure in en om die hof tydens se Badenhorst se verskyning word gekenmerk deur ’n groot aanwesigheid van oproerige en ontevrede lede van die publiek.

Die moordverdagte, Wessel Badenhorst (55), se aansoek om borgtog is weer eens op 16 April in die Delmas Landdroshof uitgestel.

Badenhorst wat van die moord op Makatabula Mdumiseni Hlatshwayo (44) aangekla word, het reeds op verskeie geleenthede in die Delmas Landdroshof verskyn, maar die saak was met elke geleentheid uitgestel.

Sy eerste verskyning was op 25 Maart waarna die aansoek na 2 April uitgestel was. Badenhorst het weer op 9 April in die hof verskyn, maar die saak moes weens ’n kragonderbreking na die volgende dag uitgeskuif word, waarna die formele borgaansoek na 16 April uitgestel was.

Gebeure in en om die hof tydens Badenhorst se verskyning word gekenmerk deur ’n groot aanwesigheid van oproerige en ontevrede lede van die publiek.

Badenhorst, ’n sekuriteitsbeampte by ’n bekende boerderygroep in die omgewing van Argent, se inhegtenisname volg op die beweerde moord op Hlatshwayo en die gepaardgaande veelvuldige beserings van ’n vrou gedurende die aand van 22 Maart.

Badenhorst het na bewering vyf skote na die slagoffer se bakkie geskiet. Met die polisie se aankoms op die toneel, was die beseerde vrou in die bakkie gevind, maar Hlatshwayo was skoonveld.

Daar was toe met behulp van ’n hommeltuig na hom gesoek. Sy liggaam is met vyf skietwonde sowat 200m vanaf die toneel in ’n sojaland gevind. Mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.

Beweringe dat die passasier ook geskiet was, was intussen deur ’n betroubare bron as onwaar afgemaak, maar word glo eerder toegeskryf aan beserings weens skrapnel en glasstukke.

Badenhorst bly intussen in aanhouding en moes teen druktyd weer op 23 April in die hof verskyn wanneer die formele aansoek om borgtog voortgesit sou word.

Related Articles

 
Back to top button