Local newsStreeknuus

Delmas Buurtwag oefen hul gebeurlikheidsplan

Die AfriForum massapatrollie het ’n reuse impak op misdaadvoorkoming.

AfriForum buurtwagte het weer op 19 April op groot skaal aan die burgerregte-organisasie se landswye massapatrollie deelgeneem.

AfriForum Delmas Valke Buurtwag het besluit om van hierdie geleentheid gebruik te maak om hul gebeurlikheidsplan in geval van nood in te oefen.

Verskeie noodtoestande soos brande, mediese noodgevalle en opstande met effektiewe kommunikasie was tydens die oefening gesimuleer en reaksie daarop in realiteit geoefen.

“Ons AfriForum Buurtwag het nie net hul gebeurlikheidsplan ingeoefen nie, maar ook sigbaarheid op ons dorp verhoog. Dankie vir elkeen se deelname.

“Met reaskie soos dié wat ons Vrydag gesien het, weet ek dat ons noodgevalle sal kan hanteer as ons moet,” het Jaun Herholdt, veiligheidsvoorsitter van AfriForum Delmas Valke Buurtwag, gesê.

Die voorsitter, Carel Botha het die Delmas Rolbalklub bedank vir die gebruik van hul gebou en die ondernemings op Delmas wat vir die drink- en eetgoed gesorg het.

“Ons doen dit eerstens vir die beskerming van ons gesinne, ons weerbares en vir die gemeenskap van Delmas.

“Elkeen wat ons hierin ondersteun, word dus opreg bedank en baie dankie ook aan die Valke-lede, -protospan, -reaksielede en -mediese span wat hul vrye tyd opgeoffer het om van hierdie inoefening so ’n groot sukses te maak.

“Dit is verblydend om te weet dat in geval van nood op Delmas, daar altyd diegene is op wie ons kan staatmaak en wie beskikbaar sal wees om op kort kennisgewing ons dorp en sy mense veilig te hou.”


LEES OOK: Residents in eMbalenhle connected their toilets pipes to the storm water drainage


Botha en Herholdt het ook gemeenskappe aangemoedig om by hul plaaslike buurtwagte betrokke te raak.

“Moenie wag totdat iets gebeur en dan wil betrokke raak nie. Word nou deel van die span en wees voorbereid vir die onverwagte.”

Hennie Bekker, AfriForum distrikskoördineerder vir die Hoëveld het gesê hul massapatrollie het ’n reuse impak op misdaadvoorkoming.

“Daarmee saam gee dit ook vir ons die kans om organisasievermoë te toets en sodoende te verseker dat ons lede ingeoefen bly en vinnig kan ontplooi indien nodig.”

Mense wat belangstel om by AfriForum Delmas Valke Buurtwag aan te sluit, kan Carel Botha skakel by 082 925 5849.


Related Articles

 
Back to top button