Tracey van Wyk van Secunda deel haar opinie oor geslagsgeweld
Vroue moet begin praat en gemeenskap moet meer betrokke raak.
Op dag 11 van die veldtog, 16 Dae van Aktivisme teen geslagsgeweld, in ’n bewusmakings-aksie wat die Ridge Times saam met Famsa aanbied, gesels die Ridge Times met Tracey van Wyk, berader, pastoor, kapelaan en jarelange voorsitter van die ATKV se Kosmosrand-tak op Secunda.
Van Wyk was ook vir jare aan die stuur van sake by die Curamus Trauma-sentrum by Secunda Polisie.
Op die vraag oor hoe geweldadig die gemeenskap op Secunda is, het Van Wyk gesê dat dit beslis aan die toeneem is.
“Ek het daagliks te doen met slagoffers van geweld wat dan deur die trauma moet werk,” het Van Wyk vertel.
“Net in die week moes ek ’n persoon hanteer wat deur erge trauma gegaan het na ’n aanval by hulle huis.
“In ’n ander geval is ’n seun op hul plaas vermoor terwyl die rowers die ma erg aangerand het.”
Van Wyk meen dat geweld nie net teen vroue is nie, maar ook kinders en mans.
“Almal loop deur.”
Sy meen die gesegde, ‘Verhoed dit voordat dit gebeur’, is nie altyd moontlik nie, maar sy glo dit is baie belangrik dat mense voorkomend moet optree.
Van Wyk glo as dinge stelselmaties gaan verander as dit by geweld kom, moet die gemeenskap en ouers meer betrokke raak by skole en kinders inlig oor hoe om hulself te beveilig.
“Vroue en kinders is baie kere slagoffers van gesinsgeweld en wil dan nie daaroor praat nie.
“Ons moet vroue en kinders aanmoedig om die polisie se hulplyn te skakel en dan moet ons seker maak dit word opgevolg.
“Ons traumasentrum is ’n onmisbare hulpbron.
“Ek wil vir slagoffers sê: ‘Praat daaroor, dit is nie jou skuld nie, gaan vir berading, sluit aan by ’n groepie waar selfverdediging aangebied word, wees sterk in jouself’.”
Sy meen die gemeenskap moet begin saamstaan en die skuldiges uitwys om die bose krinloop te stop.
Van Wyk gebruik deur die jare gereeld die ‘Survivors Psalm’ en dit is ook haar boodskap van hoop aan oorwinnaars van geweld.
Die Psalm lui:
“I have been victimised.
I was in a fight that was not a fair fight. I did not ask for the fight. I lost.
There is no shame in losing such fights, only winning.
I have reached the stage of survivor and I am no longer a slave of victim status.
I look back with sadness rather than hate.
I look forward with hope rather than despair.
I may never forget, but I need not constantly remember.
I was a victim ….
I am a survivor!



