Secunda-gemeenskap maak harte oop sodat kinders nuwe nagklere kan hê
Borg ’n kind se verjaarsdag of gee jou ou, bruikbare klere vir ’n goeie doel.
Plaaslike fotograaf Idalet Maritz is aangeraak deur die gemeenskap se oop harte en hande.
Maritz is die afgelope paar jaar by die Cosmos Kriel Kinderhuis betrokke, waar sy verskeie projekte in samewerking met die gemeenskap en ’n groep vriende en vrywilligers aangepak en uitgevoer het.
Haar nuutste projek was om wintersnagklere vir al die kinders in te samel, en binne ’n paar dae het sy dié doel bereik.
“Ek wil die gemeenskap en elke persoon wat iets geskenk het uit my hart bedank,” het Maritz gesê.
“Prys die Here vir die 80 stelle nagklere wat ingesamel is. God sien elkeen van dié kinders raak. Bid asseblief vir dié weeskinders en ook vir hul ouers, dat Jesus hulle sal ontmoet waar hulle is. Bid ook vir die huismamma’s wat daagliks met dié kinders, wat baie seer het, moet werk.”
ALSO READ: Bowling club in Secunda raises R40 000 for Cansa
Maritz kon ook vir elke huismamma ’n stel wintersnagklere en pantoffels koop.
Sy wil steeds klere vir dié huismamma’s insamel en het gevra dat vroue in die gemeenskap hul klerekaste uitsorteer en enige klere wat nog in ’n goeie toestand is, maar wat hulle nie meer dra of wil hê nie, sal oorweeg om te skenk.
Toe Maritz die nagklere op 6 Julie gaan uitdeel het, het elke kind ook ’n koeldrank, hamburger en kolwyntjie ontvang.
Maritz se volgende projek is om 80 mense uit die gemeenskap te kry wat bereid is om jaarliks een kind op sy of haar verjaardag met ’n geskenk en ’n koek te borg.
Vir meer inligting of om by Maritz se projekte betrokke te raak, skakel haar of stuur ’n WhatsApp-boodskap na 076 645 4305.
ALSO READ: eMbalenhle SAPS mediate tension between squatter camp residents and foreigners



