Laerskool Goedehoop op Secunda se netbalspan eindig vierde in land
Skoolbestuur is trots op netbalspelers.
Laerskool Goedehoop se o12A-netbalspan het op 25 Julie aan die Suid-Afrikaanse Skole-netbalkampioenskap by HTS Middelburg deelgeneem en vierde geëindig.
Juanita Fourie, Goedehoop se skakelbeampte, het gesê die span het gedurende die toernooi uitstekende karakter, deursettingsvermoë en spanwerk getoon en hulself met trots teen van die land se sterkste skole gehandhaaf.
“Om onder die topvier-spanne in Suid-Afrika te eindig, is ’n merkwaardige prestasie wat getuig van maande se harde werk, toewyding en opoffering deur die spelers, afrigters en ouers,” het Fourie gesê.
“Dié prestasie is nie net ’n hoogtepunt vir die span nie, maar ook vir Laerskool Goedehoop en die hele Secunda-gemeenskap.
“Dit bevestig weer eens die hoë standaard van sport by die skool en die uitstekende ontwikkeling van jong sporttalent. Ons is ongelooflik trots op elke speler wat met passie, dissipline en vasberadenheid gespeel het.
“Julle het Laerskool Goedehoop op die grootste verhoog in Suid-Afrika met trots verteenwoordig.
“Laerskool Goedehoop wens die spelers, afrigters en almal wat tot hierdie besonderse prestasie bygedra het, hartlik geluk. Julle het geskiedenis gemaak en bewys dat harde werk en spanwerk groot drome kan laat waar word.”



