
Met dié brief verwys ek na die artikel geplaas in die Ridge Times van 13 Junie, “Skole wil spoedwalle hê”.
Ek stem saam met wat mnr. Henry Masango gesê het dat ons as motoriste ons gedrag moet verander en sodoende ander in ag begin neem, en wil graag hiermee ’n stuiwer in die armbeurs gooi.
Ons leef nou in ’n nuwe bedeling en ja, baie dinge het verander, maar as ons nie begin uitkyk vir mekaar nie, wie sal dan?
Beslis nie meer Boland Bank nie.
Ek vra myself af: “Wat gaan dit van ons neem om net so ’n bietjie meer geduld aan die dag te lê?”
Is dit regtig nodig om so in ons dorp te jaag?
Om nie ryvoorrang by ons nuwe verkeersirkels toe te pas nie?
Neem dit so baie van ons om net gou toe te gee vir die motoris wat graag in die hoofpad vanaf ’n sypad wil indraai?
Dankie vir dié wat wel kan toegee.
Ek kan aangaan, maar wil graag ook die volgende belangrike sakie, wat so swaar op my hart lê, noem:
daar is byna geen voetoorgang of verkeerslig op Secunda wat werk nie.
Ek het al probeer vra wanneer dit reggemaak gaan word, maar nou ja, dit is ’n storie vir ’n ander dag.
Is dit nou regtig só moelik om by die voetoorgangverkeerstligte te stop sodat voetgangers veilig oor die pad kan loop?
Wat gaan dit van ons neem om net gou die waarskuwingsligte aan te sit, te stop en ’n voetganger ’n kans te gee?
Ek glo deur net ’n paar veranderings in ons dag-tot-dag gedrag, kan ons as motoriste van Secunda beslis ’n verskil maak en so ook keer dat nog meer spoedwalle gegooi sal moet word.
Terloops, ek het onlangs oor die radio gehoor dat motors meer brandstof verbruik deur oor ’n spoedwal te gaan as daar sonder.
Eish, medemotoriste, dink net aan die besparing daarsonder.
Vergun my asseblief nog een laaste gedagte: berus padveiligheid nie by die een agter die stuur nie?
Komaan man, kom ons maak weer ons dorp ’n voetgangervriendelike dorp.
Ter afsluiting wil ek net sê: “The greatest discovery of my generation is that a human being can alter his life by altering his attitudes of mind” – William James, US pragmatist, philosopher and psychologist (1842 – 1910).
Laura du Preez, Secunda.



