
Standerton-winters het die manier om my soos ‘n gevangene voor die televisie vasgenael te hou.
Boer-soek-‘n-vrou is nie my gunstelingprogram nie, maar met “musical chairs” met die afstandbeheerde kontrole, kom ek op die bekendstelling van die eensame manne af.
So, sien ek toe nou die een jong man wat van ‘n goeie, outydse handgeskrywe brief hou en my gedagte vat die pad. Handgeskrewe briewe is die verklikkers van die mens se innerlike.
Die geskribbel op papier is die foto van ‘n mens se innerlike, hetsy bly of bedruk.
Inderdaad spreek selfs die griffel (pen) in jou hand van jou persoonlike self.
‘n Dunnerige punt, of vet en rond, so val hy in ‘n spesifieke mens se smaak.
Die griffel is vanselfsprekend ook dan verantwoordelik vir die vloei van my gedagtes.
Soos ‘n gemaklike paar skoene wat jou voete laat loop waar hulle wil of daardie hoë spykerskoene wat klik-klik sonder om êrens heen te gaan, is my pen my vermoë of onvermoë om te kan spel of selfs net die alfabet te vind…
Ja boertjie, ek kan met jou saamstem. ‘n Handgeskrewe brief is ‘n skatkis van genot en ontdekking om die mens agter die pen en papier op papier te leer ken. Dus, ek vertrou dat hy sy geletterde liefde sal raaklees.
Amanda Fischer, Standerton.



