Droogte.
As iemand praat van ons droë land, verstaan ’n stadsjapie seker die minste daarvan want die krane loop mos nog volstoom.
Beurtkrag is ’n ongerieflike werklikheid vir die meeste mense, maar beurtwater is seker net die kleinboet van droogte.
Vroeg al is groot damme in ons land gebou om te verhoed dat reënwater in volle spoed die see instroom.
Oor die nuus hoor ons gedurig van damme wat 90% vol is, maar meer dikwels van dié wat nog net 10% inhou.
Vir ’n boer is droogte eintlik die ergste vrees, want behalwe vir eie oorlewing, is daar ’n reeds te digte bevolking wat van voedsel voorsien moet word.
So gebeur ’n sekere geval waar oom Hans maar elke aand buite staan met ’n stille gebed, om te sien of ’n enkele weerligstraal nie sy gemoed kan troos nie.
Reeds al naby Kersfees en nog geen reën nie.
Die lewelose grassies word deur die westewind tot poeier, gemeng met sand, al dwarrelend rondgestrooi.
Die mielies lê nog sedert begin Oktober onder die grond en wag vir bietjie vog om te ontkiem.
Nie eens ’n teken van ’n druppel dou soggens nie.
Dis hartverskeurend om te sien hoe die reeds te maer beeste en skape teen die draad saamdrom en al bulkende en blêrend om kos smeek.
Bure kan nie help nie, dieselfde lot het hul ook getref.
Nêrens is voer te koop nie, of sê liewer die boere het nie geld om te koop nie.
Van mark toe neem is geen sprake nie, want die diere is of te maer of te swak om by ’n oorvol mark uit te kom.
Biddae vir reën word gehou, maar die reeds platgeslane boere kry net beloftes van regeringstoelaes wat net nie betyds in die kantore afgehandel kan word nie.
Wag glo nog vir handtekeninge van vooraanstaande ministers wat eers van oorsese samesprekings moet terugkeer.
Kersfees en Nuwejaar en geen druppel reën om die gemoedere op te helder nie.
El Nino vier hoogty.
Op die 2de Januarie verander die stofbedekte lug in ’n donker, byna swart wolkemassa.
Oom Hans gryp goiingsakke en bedek sy enigste twee oorlewende blylênde koeie daarmee, want na die versengende hitte sal hulle nie in’n reënstorm oorleef nie.
Eers donderweer, blitse en ’n sterk wind wat selfs bome ontwortel alvorens groot haelkorrels en reëndruppels in ’n stortvloed uitsak en droë stof tot modder vermeng.
Die reën het gekom, maar die boere weet dit reën nie gras nie en opvolgreën is baie noodsaaklik om weiding effens aan te help voor die winter.
Gelukkig het die damme nou water, maar nou is daar nie vee om die water te drink nie.
Opmerklik sien mens baie boere sukkel met hul knieë as hulle ouer word.
Te verstane.
Baie tyd op hul knieë bestee in smeking en danksegging.
Lalla (anoniem)
word vervolg
Besoek gerus ons ander webtuistes hier:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.
Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:
BBM – 266F5BCC
WhatsApp – 0748872805



