Local sportSport

Niggies durf 1 000km aan

Elke dag van staptog was ’n hoogtepunt.

BETHAL/STANDERTON – Twee niggies, Anna Marie Eagar van Standerton en Lorina Cronje van Bethal, het vroeër vanjaar die bekende Camino-staproete in Spanje aangedurf.

Dit was nog altyd Eager se droom om dié staptog van sowat 1 000km te doen en op 1 Junie het dié twee vroue op die vliegtuig geklim, gewapen met hul rugsakke en stapskoene.

Hul avontuur het op 4 Junie in St. Jean-Pied-du-Port in Frankryk begin.

Hulle het daagliks tussen 25km en 38km deur verskeie nedersettings en klein dorpies gestap en moes probeer om daagliks ten minste drie stempels by verskillende plekke soos kerke, oornagplekke en kroeë te kry om hul pelgrimspaspoorte gestempel te kry.

Dit was nodig om aan die einde van hul staptog in Santiago, Spanje, te kwalifiseer om ’n spesiale sertifikaat te ontvang.

“Dit was fantasties, ons het in alle weersomstandighede, reën, wind en hitte gestap.

“Die laaste twee weke van ons staptog, het ’n hittegolf Spanje getref en ons het temperature van meer ase 40 grade C gehad,” het Eagar gesê.

Cronje het meer as 800km met haar plakkies gestap nadat haar stapskoene haar te veel blase gegee het en sy besluit het om dit op te hang.

“Ons het baie interessante mense van regoor die wêreld ontmoet,” het Cronje gesê.

Dié twee stappers moes daagliks hul wasgoed was omdat hulle net twee stelle klere kon saamdra.

“Dit is vreemd om iets so persoonlik soos jou onderklere in die openbaar te hang om droog te word, maar dit is wat gebeur as jy in Europa is.

“Jy hang dit op ’n droograk en dit staan in die straat waar al die plaaslike inwoners en ander pelgrims verby stap,” het Eager gesê.

Hulle moes al hul bagasie saamdra en elkeen het ’n groot stap-rugsak wat 11kg geweeg het, gedra.

“Ons het een stel aan die bas en een in die sak gehad,” het Eagar gesê.

Daar was orals op die roete fonteine waar hulle vars drinkwater kon kry.

Hulle het een nag in ’n klooster wat 200 mense kon huisves, geslaap.

“Ons moes baie vinnig daaraan gewoond raak om te deel.

“Mans, vroue, oud, jonk almal deurmekaar het in een groot saal geslaap.

“Watter Babelse verwarring was dit nie met elkeen wat sy eie taal gepraat het.

“As jy jou hand uitgesteek het, kon jy aan die persoon langs jou se bed geraak het.

“Ons het egter geen oomblik onveilig gevoel nie, almal het een doel voor oë gehad, om die staptog te voltooi,” het Eagar gesê.

Die item wat hulle die meeste gedurende hul staptog gekoop het, was pleisters.

“As ons ’n apteek gesien het, het ons pleisters gekoop, want jy weet nooit wanneer jy weer ’n apteek gaan sien nie” het Cronje gesê.

Hulle het vir middagetes langs die pad iets gekoop, maar tussen 2nm en 5nm was al die winkels toe, omdat die Spanjaarde dan siesta gehou het.

“Hulle het letterlik gaan rus in dié tyd, dan het hul winkels weer vanaf 5nm tot so 10nm oopgemaak,” het Cronje gesê.

Hulle het in die aande soos konings geëet en dié etes het voorgereg, hoofgereg en nagereg ingesluit asook wyn en water wat in Spanje ’n pelgrimsmaaltyd genoem word.

Dié twee niggies kon tydens die staptog mooi sien hoe die Spanjaarde leef omdat die roete hulle verby mense se voor- en agterdeure geneem het.

“Die Spanjaarde is mense wat baie hard werk, hulle doen alles self.

“Dit was dus nie snaaks om daar ’n vrou te sien wat saam met haar man in die lande skoffel met ’n pik in die hand nie.

“Ons het dit orals op die platteland gesien.

“Die meeste jongmense gaan stede toe vir beter geleenthede terwyl die ouer mense op die platteland agterbly.

“Wat vreemd was vir ons, is dat mense stalle onder het waar beeste bly, dan bly die mense op die boonste verdieping, bo die stalle,” het Eagar gesê.

Vir Cronjé was elke dag ’n hoogtepunt om te sien hoe die mense in Spanje woon.

Hulle het deur ’n dorpie wat net een inwoner het, gestap.

“Ons was geseënd en het geen teenspoed gehad nie, as ’n mens hoor wat het alles met die ander gesoute reisigers verkeerd gegaan,” het Eagar gesê.

“Die Here was beslis daagliks met ons,” het Cronje gesê.

Dit was albei se eerste keer oorsee.

Eager stap al sedert haar laerskooldae en Cronje het drie jaar gelede begin stap.

Albei is lede van die Majuba Stapklub op Volksrust.

.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button