Albei rugbyspanne van die Standerton Tarentale het hulle wedstryde die afgelope naweek teen Kinross gewen, die eerstespan met 29-7 en die tweedespan met 43-0.
Die adrenalien en opgewondenheid het hoog geloop toe die manne van die Tarentale op die veld gedraf het.
Die eerste helfte het dit rof gegaan met die spelers wat mekaar soms ‘misverstaan’ het en met rustyd was die telling 7-14 in die Tarentale se guns.
In die tweede helfte, na die afrigter sy praatjie gehad het, het die manne hulle “game plan” tot die letter gevolg.
Die punte het ingestroom en hulle het Kinross gemaklik geklop.
Die tweedespan wat vroeër die middag op die veld gedraf het, het van die blaas van die fluitjie saamgestaan.
Met rustyd het hulle 24-0 voorgeloop.
In die tweede helfte het die reën uitgesak, maar dit het hulle geensins afgeskrik nie.
Hulle het met mening punte op die telbord gesit.
Toe die eindfluitjie geblaas het, was die manne moeg, maar baie tevrede met hulle oorwinning.
Die rugbyseisoen het amptelik afgeskop vir dié klub.
Sedert 2007 was die Standerton Rugbyklub nie op dreef nie.
Dit het verlede jaar verander toe ‘n rugbykomitee in die lewe geroep is.
Dié komitee het groot planne vir die klub en het reeds baie vermag.
Met die hulp van gemeenskapslede en borge het die klub nuwe truie en veldtoerusting gekry, selfs die veld is gerehabiliteer.
Die gemeenskap van Standerton het ook nie teleurgestel met die eerste vriendskaplike wedstryd nie.
Hulle het soos van ouds voertuie om die veld parkeer, die pawiljoen was vol ondersteuners vir Standerton, sowel as vir Kinross.
Die Kansa-stalletjie was byderhand vir die ondersteuners sou die hongerpyne begin knaag.
Reeds met die opwarming van die spanne was die opwinding tasbaar. Dit was die eerste wedstryd wat in sewe jaar weer op Standerton aangebied is.
Toe die wedstryde begin het was die ondersteuners duidelik hoorbaar van die pawiljoen se kant af en die wat in hulle voertuie was, het kort-kort op die toeters gelê.
Die onderskeid was duidelik soos die wedstryd verloop het.
Die Tarentale speel die komende naweek op hulle tuisveld, in die eerste ligawedstryd van die seisoen.
Die tweedespan begin om 3nm en die eerstespan net daarna.
Vir inligting skakel mnr. Jakes Coetzee, voorsitter van die Standerton Rugbyklub, by 071 1205 918.



