Standerton kry ’n mokerhou
Middelburg se eerstes het omtrent stof in Standertonspelers se gesig opgeskop, maar volgens mnr. Coetzee was dié span, wat ook aan die Asopol-reeks deelneem, op die dag die beter span.
Standerton se eerste- en tweede rugbyspanne het die naweek teen Middelburg in ‘n superligawedstryd te staan gekom en albei het hul wedstryde verloor.
Die tweedespan het omstreeks 3nm afgeskop en daarin geslaag om Middelburg tot 24-0 in die eerste helfte te beperk.
Die tweede helfte het van vasbyt en aanhou getuig.
Standerton het in die laaste kwart van die wedstryd twee drieë gedruk, maar dit was te min en te laat en hul het die wedstryd met 24-14 verloor.
Volgens mnr. Jakes Coetzee, voorsitter van die rugbyklub, het die manne goeie veggees gewys.
“Ons kon by die losgemale sterker gewees het, maar ons sal veral dié week daaraan werk.”
Krukkelys: Riaan Badenhorst (enkelbesering).
Voorspeler van die wedstryd: Julian Ferreira, posisie: flank, uitnemende verdediging en lynstaanspel.
Agterspeler van die wedstryd: Andries Jardin, posisie: senter, goeie lynbreke en verdediging.
Die eerstespan was ‘n storie vir ‘n ander dag.
Hulle het hul wedstryd met 72-0 verloor.
Middelburg se eerstes het omtrent stof in Standertonspelers se gesig opgeskop, maar volgens mnr. Coetzee was dié span, wat ook aan die Asopol-reeks deelneem, op die dag die beter span.
Volgens hom was dit eenrigtingverkeer in die guns van Middelburg.
“Ons spelers het goed gedoen om die kragtige span op hok te hou in die eerste helfte.
“Dit was egter in die tweede helfte wat ons verdediging ons in die steek gelaat het.
“Ons is ‘n relatiewe nuwe span wat nog baie werk het om te doen, maar ek is trots op die manne se veggees teen die span van Middelburg.”
Krukkelys: Wian Prinsloo (kniebesering) en Michael Kruger (dyspierbesering).
Voorspeler van die wedstryd: Willem Pieters, posisie: slot, goeie dryflopies en verdediging.
Agterspeler van die wedstryd: Hendrik Coetzee jnr., posisie: heelagter, goeie lopies en lynbreke.
Standerton se spanne kom weer op 5 April teen Groblersdal te staan.
Vir die tye en meer inligting skakel mnr. Coetzee by 071 120 5918.



