AC se kinderdroom word waar
AC is dankbaar vir sy borge wat sy droom om in tydrenne te jaag, moontilk maak.
SECUNDA – Dit was al van sy kleuterskooldae af AC Potgieter (20) se droom om eendag ’n renjaer te wees.
Dié droom is bewaarheid toe hy bykans 18 jaar oud was.
Hy het sy eerste tydren met sy leerlinglisensie gery.
Volgens sy pa, mnr. Johan Potgieter, het AC al op die duine in Mosambiek motor bestuur toe hy ses jaar oud was.
Vriende het hom aangemoedig om te begin ry en sy eerste renmotor was ’n Toyota Tazz wat sy pa vir hom gekoop het.
“Met die hulp van mnre. Nico Higgs en Etienne Lourens kon ek oor ’n kort tydperk waardevolle ondervinding opdoen,” het Potgieter gesê.
Hy het later ’n oranje Volkswagen Polo Cup Car gekry en was die eerste renjaer in Suid-Afrika wat met só ’n motor aan ’n tydren deelgeneem het.
Potgieter ry tans met ’n Volkswagen Polo R2 en het al aan vyf nasionale kompetisies met dié motor deelgeneem.
Hy berei tans vir die Volkswagen Nasionale Tydrenkampioenskappe voor wat volgende naweek in Port Elizabeth plaasvind.
Sy spanmaat en navigator is Tommy du Toit van Middelburg.
Dié twee is al sedert Potgieter se begindae in die tydrenwêreld ’n span en hy reken hulle werk goed saam.
“Tommy is een van die beste navigators.”
Potgieter oefen daagliks in die gimnasium om fiks te bly vir die tydren.
“Dit is belangrik as ’n mens aan tydrenne deelneem om fiks te wees, want jy verloor 2-3kg tydens die tydren.
“As jy nie fiks is nie, sal jy ontwater,” het Potgieter gesê.
Hy het een keer tydens ’n oefensessie in ’n boom vasgery, waarna die motor aan die brand geslaan het.
“Ons het die vuur geblus en verder gery.”
Sy motor word na elke tydren heeltemal uitmekaar gehaal en dan weer aanmekaar gesit.
Potgieter speel gereeld rugby en is in Sasol Rugbyklub se eerstespan.
Hy het al vyf keer vir die Pumas Rugbyspan uitgedraf.
Potgieter hoop om vanjaar weer vir hulle te speel en sal binnekort hoor of hy deel van dié span is.
Hy het al van kleins af aan verskeie sportsoorte deelgeneem en het op die ouderdom van nege jaar begin stoei.
Hy het vir sewe jaar agtereenvolgend sy Suid-Afrikaanse kleure vir stoei gekry en een jaar in Duitsland gaan deelneem waar hy drie medaljes ingepalm het.
As Potgieter nie agter die stuur van sy tydrenvoertuig sit, in die gimnasium oefen of op die rugbyveld rondhardloop nie, help hy sy pa wat ’n konstruksie-onderneming besit.
Hy het sy borge mnre. Potgieter en Nico Higgs van onderskeidelik Potwyk Bouers en HRD Secunda, bedank.



