Al drie Secunda Rugbyklub se spanne maak skoonskip
Sasol Hydra-Arc het oortuigende oorwinnings teen gedugte teenstanders gevier.
Die Sasol Hydra-Arc-rugbyspanne het die naweek skoonskip van hul teenstanders gemaak.
Die eerste- en tweedespanne het teen Middelburg op Middelburg gespeel en goed gevaar.
Die eerstespan het teen rustyd met 24-6 voorgeloop en dié harde en fisiese wedstryd met 48-32 gewen.
’n Laat drie deur Lourens Basson het die oorwinning vir Sasol verseker en Jannie van der Merwe se goeie skopwerk het die telling lekker opgestoot.
Ruan van der Colf was ’n staatmaker en het uitgeblink as een van die beste spelers in die voorry.
Sasol het ses drieë aangeteken teenoor Middelburg se vier.
Pieter (Stretch) Streicher, Lourens Basson en Wessel Booysen het elkeen een drie gedruk en Christiaan Wessels twee.
Jannie van der Merwe het nie net al ses van sy span se drieë verdoel nie, maar ook twee strafdoele aangeteken.
Ruan van der Colf en Jannie van der Merwe is as die manne van die wedstryd aangewys.
Tweedespan seëvier
Sasol se tweedespan was te sterk vir Middelburg en het teen rustyd met 43-0 voorgeloop.
Ruben Lello en Jacobus Byleveld se besondere samewerking in die agterry en Righ Potgieter se skopskoen het herhaaldelik punte aangeteken.
Hoewel die tuisspan teruggeveg het, was die eindtelling 48-10 in Sasol Hydra-Arc se guns en het die Secunda-span sewe drieë aangeteken teenoor Middelburg se twee.
Jacobus Byleveld het drie drieë gedruk en Gert Pieterse Ruben Lello, Johan van Schaik en Steyn van der Heever elkeen een.
Righ Potgieter het vyf van die drieë verdoel en een strafdoel aangeteken.
Edmund Soule en Milile Moyikizo is aangewys as die manne van die wedstryd.
André (Popeye) Wittstock se sterk leierskap het beslis tot sy span se oorwinning bygedra.

Derdespan wen oortuiglik
Sasol Hydra-Arc se derdespan het teen Standerton se tweedespan gespeel en dié keer het die derdespan oortuigend gewen met ’n finale telling van 62-14.
Die span se sukses is te danke aan die goeie samewerking tussen die span se jong, nuwe talent en die ondervinding en leiding van meer ervare spelers soos Pieter Odendaal, Ruan Dickenson en Sanele Dhlamini as kaptein.
Die derdespan het altesaam 10 drieë gedruk teenoor Standerton se twee gedruk.
Pieter Odendaal en Karel de Jager het onderskeidelik vier en twee drieë elk verdoel.
Odendaal het ook drie drieë gedruk en is as een van die manne van die wedstryd aangewys.
Karel de Jager het twee drieë gedruk, Given Tshabalala en Sanele (Dawg) Dlamini een elkeen en Juan Schambreel drie drieë.
De Jager is as die tweede man van die wedstryd aangewys.
Die rugbyseisoen het goed spoed opgetel en Sasol Hydra-Arc se eerste- en tweedespanne speel eerskomende naweek tuiswedstryde teen Witrivier.
Die eerstespan se wedstryd begin om 4nm en die tweedespan speel al om 2.30nm.
Die derdespan speel om 1nm teen Ermelo op Bethal.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Standerton Advertiser & Highvelder
“Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



