Local sportSport

100 jaar van rugbyvreugde vir Bethal Rugbyklub

Oud-spelers het staaltjies van hul ou rugbydae vertel en die gehoor behoorlik laat skater.

Bethal Rugbyklub het Saterdag, 24 Junie hul honderste bestaansjaar met ’n dinee en rugbywedstryd gevier.

Oud-rugbyspelers van die klub het vir ’n lekker kuieraand bymekaargekom.

Deon Schoeman, ’n rugbykommentator vir onder andere die RSG-radiostasie, het ’n gesprek tussen Wickus van Heerden, Barnie de Klerk en Wouter Theron gelei.

Ramoetsa Jansen van Rensburg, Barnie de Klerk, Dewald te Water en Danie Nel is almal oud-rugbyspelers van Bethal Rugbyklub. Hulle het die honderdste bestaansjaardinee bygewoon.

Wickus is ’n oud-Blou Bul- en Sharks-rugbyspeler en Barnie en Wouter is oud-Bethal-rugbyklubspelers.

Dié spelers het staaltjies van hul ou rugbydae vertel en die gehoor behoorlik laat skater.

Dinge het meer ernstig begin raak toe Wickus die belangrikheid van klubrugby aangeraak het.

“Dit is vir my hartseer dat die provinsies nie meer vir die rugbyklubs sorg nie. Provinsiale spelers kom vanuit rugbyklubs. Dit is asof mens vir die unie wil sê hulle moet wakker word, want hier is soveel klubs en hulle vra om klubs te ondersteun,” het Wickus gesê.

Eugene Zaayman het ’n paar maal met die bal deurgebreek tydens die wedstryd teen Ermelo.

Barnie het vertel dat daar in die dae toe hy gespeel het, ’n klub was wat in ’n harde neut wat sukkel om te kraak verander het, en dit is Bethal Rugbyklub.

“Dit is my ook net so hartseer om te sien dat klubrugby op die pad is waar dit is.

“Ek onthou nog goed hoe koud dit op Dinsdag- en Donderdagaande was tydens oefening op Bethal.

“Ons was gewoonlik so ’n stuk of 15 ouens by die oefening en een aand was daar vreeslik baie ouens wat opgedaag het.

Johan (Bees) Beeslaar ontwyk ‘n duikslag tydens Bethal se wedstryd Saterdag teen Ermelo. Bethal moes met drie punte die knie buig voor hul teenstanders.

“Ek vra toe wat aangaan en iemand sê dat ons Saterdag teen Ermelo speel en dit sal ’n skande vir Bethal wees om teen hulle te verloor,” het Barnie vertel.

Wouter het vertel dat wanneer jy ’n fout tydens ’n wedstryd gemaak het, jy dit self moes regmaak.

“Ons het met ’n das en baadjie voor ’n wedstryd opgedaag en het respek vir mekaar gehad.

“Jy het nie die Vrydagaand voor ’n wedstryd gaan drink en kuier nie.

“As daar iemand was wat wel die aand voor die tyd gedrink het, het hy ’n bakoond gekry.

“Die lekkerste tye was ook wanneer die hele gesin na die tyd saam in die klubhuis gekuier het en die kinders buite gespeel het.

“Dít is hoe klubrugby weer moet wees,” het hy gesê.

Wickus het gesê dat hy by Bethal Rugbyklub betrokke wil raak en hulle wil ondersteun.

Almal was baie opgewonde daaroor.

Bethal het Saterdag met net drie punte teen Ermelo verloor.

Die eindtelling was 30-27.

Puntemakers was Hanro Smit, Gabriel Franna de Wet, Johan Beeslaar (kaptein), Jannie Burger en Steyn Steynberg wat elkeen ’n welverdiende drie gedruk het.

Lees ook: Bethal Rugbyklub gee Kinross pakslae

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button