Sasol Hydra-Arc 1 en 2 deur na Premierliga-eindstryd
Sasol Hydra-Arc se eerste- en tweedespanne is deur na die eindstryd van die Premierliga wat eerskomende naweek by Sasolklub gespeel gaan word.
Secunda Rugbyklub se ondersteuners is weer verlede naweek bederf met spogrugby deur die Sasol Hydra-Arc se eerste- en tweedespanne.
Die derdespan het op Carolina teen Carolina se tweedespan gespeel en ’n wegholoorwinning behaal.
Die groot opwinding was egter tydens die halfeindronde van die Premierliga tussen Sasol Hydra-Arc se eerstespan en Middelburg.

Eerstespan klop Middelburg
Die eerstespan het nie op hul laat wag nie en die goeie, taktiese skopwerk van Fanie Booysen het gesorg dat die tuisspan vinnig die besoekers met balbesit oorrompel het.
Die voorspelers, waaronder agsteman Neoi Maliehe een van die uitblinkers was, het Middelburg se manne op hul tone gehou en teen rustyd was die telling reeds 26-7 in Sasol Hydra-Arc se guns.
Met vyf drieë teenoor Middelburg se twee, het Sasol Hydra-Arc die wedstryd maklik gewen met ’n voltydtelling van 36-12.
Sasol se puntemakers was Willem Martin, Ruan van der Colff en Juan (Shrek) Kotze wat elkeen ’n drie gedruk het en Christiaan Wessels met twee drieë.
Fanie Booysen het drie drieë verdoel en een strafdoel aangeteken.
Jannie van der Merwe het een drie verdoel.
Pieter (Stretch) Streicher en Neoi (Fats) Maliehe is aangewys as die Spur Manne van die Wedstryd.

Tweedespan loop oor teenstanders
Die tweedespan het skoonskip gemaak teen Middelburg se tweedespan met ’n eindtelling van 55-24.
Sasol Hydra-Arc se tweedespan het behoorlik gebaljaar op die doellyn en het altesaam nege drieë gedruk teenoor Middelburg wat slegs vier keer kon punte aanteken.
Jacobus Byleveldt, Righ Potgieter, Ruben Lello, Johan van Schaik en André (Popeye) Wittstock het elkeen een drie gedruk.
Reino Muller en Werno Smit het elkeen twee drieë gedruk, terwyl Righ Potgieter ook bygedra het tot sy span se oorwinning met vyf doelskoppe.
Righ Potgieter en André (Popeye) Wittstock is aangewys as die tweedespan se Spur Manne van die Wedstryd.
Derdespan oorrompel Carolina
Die derdespan het Carolina se tweedespan nie een keer toegelaat om punte aan te teken nie.
Teen rustyd was die derdes 24-0 voor en die eindtelling van 72-0 het dit duidelik gemaak wie die beste span op die veld was.
Sasol Hydra-Arc se derdespan het altesaam 12 drieë gedruk met Jaco Jacobz, Pieter Odendaal en Dumisane Mashaba wat elkeen een drie gedruk het.
Jaco de Vos, Anver January en Endrico James het elkeen twee drieë gedruk en Lourandi Peppler het uitgeblink met drie drieë agter sy naam.
Ruan Dickensen, Anver January en Lourandi Peppler se skopwerk het gesorg dat sewe van die drieë verdoel word.
Die derdespan is ook aangewys as die Butgemeester se Hoëveld Reserwe-ligawenners.
Eerskomende naweek speel al drie spanne weer met die eerste- en tweedespanne wat tuiseindstryde speel teen Witrivier 1 en Nelspruit 1 en die derdespan wat ’n voorwedstryd vir die Pumas in Mbombela teen Ngomane se eerstespan speel.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder
“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.



