Local sportSport

Olimpiese afrigter op Bethal het menige kampioene afgerig

“Dit is iets anders om die kleintjies af te rig en ek sal graag eendag weer ’n Olimpiese atleet wil afrig.”

Hy wou ’n onderwyser word sodat hy rugby kan afrig, maar sy lewenspad het ander draaie geloop en op die ou einde het hy ’n Olimpiese atleet afgerig.

Dít is die pad wat mnr. Jannie Viljoen, voormalige afrigter van die Olimpiese bronsmedaljewenner, Llewellyn Herbert, geloop het.

Hy het sy onderwysloopbaan in Welkom begin waar hy sy eerste Suid-Afrikaanse atletiekkampioen, Mandie Pretorius afgerig het.

Haar ouers het na Bethal verhuis en hy het hier vir hulle kom kuier.

In 1989 het Hoërskool Hoogenhout se destydse hoof, mnr. Piet Viljoen, hom Bethal toe gelok.

Hier het sy pad met onder andere Llewellyn Herbert en Riaan Dempers gekruis.

Mnr. Viljoen het later jare by die Technikon in Pretoria beland waar hy agt nasionale atlete afgerig het.

Dié atlete was Lewellyn Herbert (bronsmedalje by die Olimpiese Spele en silwermedalje by die Wêreldkampioenskap), Riaan Dempers (Suid-Afrikaanse rekordhouer in 200m), Ferrins Pieterse (silwermedalje in Afrikakampioenskap in 400m-hekkies), Morné Nagel (goue medalje in 60m binnenshuise wêreldkampioenskap in Kanada, asook Suid-Afrikaanse rekordhouer in 200m), Nivea Sikele (silwermedalje in 400m-hekkies by Suid-Afrikaanse Kampioenskap) en Mandie Pretorius (Suid-Afrikaanse rekordhouer vir D0/11 in 70m-hekkies).

Herbert se vertoning by die Olimpiese Spele waar hy ’n bronsmedalje gewen het, was ’n groot teleurstelling.

“Ons was seker hy sou wen, maar hy het onder andere ’n swak loting gehad deurdat hy in baan agt moes hardloop.

“Ek was egter steeds verskriklik trots op hom.”

Mnr. Viljoen het in 2002 na die Suid-Afrikaanse Kampioenskap besluit om afrigting te los en eerder op sy huisgesin te konsentreer.

Intussen het hy weer by Hoogenhout ’n draai gemaak toe hy vanaf 2004 tot 2008 sportbestuurder was.

Deesdae is hy opleidingbestuurder by ’n myn.

Mnr. Viljoen kon afrigting egter nie ontsnap nie en het weer begin om kinders by Laerskool Marietjie van Niekerk af te rig.

“Dit is iets anders om die kleintjies af te rig en ek sal graag eendag weer ’n Olimpiese atleet wil afrig. Dit is skrikwekkend om te sien hoeveel ongelooflike talent hier op Bethal is.”

Hy glo daaraan dat kinders oefeninge moet geniet.

“Atletiek het my deur die jare geleer om nederig te wees, al het mens nie altyd goeie prestasies behaal nie.

“Atletiek het my baie na aan God gebring en ek glo steeds dat dit eintlik God was wat die atlete afgerig het.”

Mnr. Viljoen het steeds drome en sal graag eendag afrigters wil afrig.

Hy wil kursusse aanbied, onder andere oor spoed.

“Ek het ongelooflik baie mense deur atletiek ontmoet en die wêreld gesien.”

Mnr. Viljoen is getroud met Martie en die egpaar het twee kinders, Gert en Engela.

Hul twee kleinseuns is hul oupa se hart se punt.

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button